Kobus Barnard by een van die teikens op die veldskietbaan in Estland. Foto: Verskaf


Hy het nie so goed gevaar soos met die vorige byeenkoms nie, maar dit inspireer Kobus Barnard selfs nog meer om homself in boogskiet te bewys.

Barnard het in Augustus aan die wêreldkampioenskapsbyeenkoms in veldskiet in Estland gaan deelneem, waar hy ’n silwermedalje in die ope afdeling vir mans verower het. In 2018, toe die byeenkoms in Suid-Afrika aangebied is, het hy die titel in dié afdeling gewen.

“Hoewel ek nou in die senior afdeling kan deelneem, wou ek my titel in die ope afdeling verdedig,” sê hy.

Dit was die vyfde keer dat hy aan ’n wêreldbyeenkoms deelgeneem het, en hy is reeds oorgehaal vir die volgende byeenkoms, wat in 2024 in Brasilië plaasvind.

Altesaam 35 mans het met Barnard meegeding, met boogskutters uit 22 lande wat aan die byeenkoms deelgeneem het.

“Dit was lekker mededingend. Ek glo ek het hulle goed gas gegee. Nou is ek net meer gemotiveerd om in 2024 te gaan deelneem,” sê hy.

Hy en sy twee spanmaats van Suid-Afrika, Lourens Nel en Bianca Kleynhans, was die wenspan op die byeenkoms. Die Bloemfonteiner het al talle boogskietkompetisies gewen. Dit sluit nasionale binnenshuise boogskiet­kampioenskappe, asook die Vrystaatse en nasionale veldskietkompetisies, in.

You need to be Logged In to leave a comment.