Bloemfonteinse oogkundige Neels Bornman het van 25 tot 28 September aan die Internasionale Skietsportfederasie (ISSF) se wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Osijek, Kroasië, deelgeneem.

Hy het ’n telling van 109/125 behaal, wat hom ’n 109de plek uit 154 mansdeelnemers besorg het.

Die kompetisie is oor drie dae beslis, en Bornman het twee teikens voor die ander Suid-Afrikaanse deelnemer in sy afdeling, Willie Steyn van Gauteng, geëindig. Steyn was 120ste.

Daar was kwotaplekke vir deelname aan die Olimpiese Spele in 2024 in Parys, maar dit het aan die vier topskuts gegaan, wat almal ’n telling van 120 of meer behaal het.

Die volgende kwalifiseringsgeleentheid vir Suid-Afrikaanse skuts is in Augustus 2023 in Azerbaidjan en in Oktober op die Afrika-skietkampioenskapsbyeenkoms in Egipte.

Bornman hoop om vir die spele te kwalifiseer. Dit was die negende keer dat hy Suid-Afrika op ’n internasionale skietbaan verteenwoordig het.

Sy pa, wyle Neels Bornman sr., het Suid-Afrika in 1992 op die Olimpiese Spele in Barcelona in die valskiet-nommer (“Olympic trap”) verteenwoordig. –Lientjie Mentz

You need to be Logged In to leave a comment.