Skuts kry erkenning vir hul talent en toewyding

Die Suid-Afrikaanse Sport-en-jagfederasie in die Vrystaat het op sy jaarlikse prysuitdelingsgeleentheid altesaam 88 eerbewyse in verskillende afdelings aan verdienstelike skuts toegeken.


Die Suid-Afrikaanse Sport-en-jagfederasie in die Vrystaat het op sy jaarlikse prysuitdelingsgeleentheid altesaam 88 eerbewyse in verskillende afdelings aan verdienstelike skuts toegeken.

Die prestasies wat op 29 Oktober erken is, sluit in Jaco de Jonge van Bloemfontein se prestasies op die baan en bydrae gelewer om die ledegemeenskap te bedien. Hy het die trofee vir mees toegewyde lid ontvang.

Philip Coetzee, eienaar van Coetzee-spyseniers, is as die kameraad van die jaar aangewys vir sy besonderse bydrae om die sportsoort te laat groei.

Die volgende lede is as die veelsydigste in hul ouderdomsgroep erken: Allie van der Walt, senior mans; Marthie Kemp, senior vroue; Yana Olivier, meisies o.14; RW van der Walt, seuns o.14; Simoné de Witt, meisies o.19; Janco de Witt, seuns o.19; en Tommy Smith, in die afdeling vir mansveterane.

Hierdie prestige-eerbewyse word toegeken aan lede wat die hoogste punte verwerf wanneer die aantal baanskiet-nommers en rangordes in ag geneem word.

Marné van der Walt, ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Fichardtpark wat as o.19-skut meeding, het in Augustus op die nasionale baansportkampioenskapsbyeenkoms van die federasie brons-erekleure ontvang vir die tweede plekke wat sy in .22-randslag en die jaggeweer-afdeling vir meisies o.19 behaal het.

Marthie Kemp is die afdelingswenner onder die senior vroue vir deelname met ’n handwapen, standaard, kompak. Hanri de Jonge het uitgeblink met ’n handwapen, veer, asook in .22-randslag en met ’n jaggeweer. Amanda Smal was die toppresteerder met ’n hand­wapen, in die ope afdeling.

Onder die senior mans het Allie van der Walt, met ’n handwapen, ope en kompak, asook in haelgeweerjag; Andy Melville met luggeweer, veer, en gas; asook Johan van der Walt jr. met boog, jaggeweer en geweerjag, uitgeblink.

Simoné de Witt, in gr. 12 aan die Hoërskool Fichardtpark, was eerste in die afdeling vir meisies o.19 vir handwapen, veer; luggeweer, veer; en .22-randslag. Haar broer Janco, in gr. 10 in Fichardtpark, was eerste in o.19 handwapen, veer; luggeweer, veer en gas; asook .22-randslag.

As o.14-seun het RW van der Walt, van dieselfde skool, in die .22-randslagafdeling presteer.

Die federasie is ’n tuiste vir gesinne en families met ’n liefde vir jag- en baanskiet.

Dit is deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens geakkrediteer om toegewyde­jagter-status en toegewyde­sportskiet-status toe te ken.

Werksaamhede sluit bekwaamheidsopleiding in en baanoffisier-, jag- en voëljagbeoordelings­kursusse word aangebied.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.