Soms raak ’n mens se idees vir bykos vir ’n vleisbraai heeltemal uitgeput. Kry gerus inspirasie uit een van die wonderlike kookboeke wat op die rak beskikbaar is en ons tuiskokke help om van elke ete ’n fees te maak.
Martelize Brink se kosboek Oor die Kole het nie net ’n magdom idees vir hoe om die perfekte gereg oor die kole te maak nie, maar ook bykosse wat jou mond sal laat water.
Sy sê koringslaai is een van haar kindertyd-gunstelinge.
“Almal skep hul eie weergawe. Jy kan jou eie stempel afdruk en rondspeel met bestanddele.”
Hier is haar weergawe van ’n koringslaai.
Die slaai is genoeg vir agt mense.
Jy benodig:
3 koppies gekookte, afgekoelde koring;
10 sagte droë appelkose (verkieslik Turkse styl) of droë perskes;
1 groot wit- of rooi ui, opgekap;
groot hand vol pietersielie, fyn opgekap;
1 selderystingel, fyn opgesny;
1 rooi soetrissie, opgekap; en
1 pakkie (100 g) pekanneute, gerooster.
Maak die slaaisous met:
¼ koppie worcestersous;
2 eetlepels sonneblomolie;
peper na smaak;
1 teelepel kerriepoeier of garam masala;
1 eetlepel dijonmostert;
2 eetlepels heuning; en
3 kerrieblare, bros gebraai in ’n bietjie olie.
Meng al die bestanddele saam en giet dié oor die koringslaai.
Martelize sê hoe langer die slaai “marineer”, hoe lekkerder is dit.