Die Mangaung-metro het al miljoene uitbetaal aan eise van inwoners wat skade aan hul voertuie opgedoen het weens slaggate.
Daar is baie voorvalle van mense wat motorbande beskadig en skade aan voertuie opdoen omdat hulle onverwags slaggate in Bloemfontein en die groter metro tref.
Een van die probleme is dat sommige van die slaggate baie vinnig vorm en ook dat mense wat ’n pad nie gereeld ry nie, nie weet waar al die gevare is nie.
Die waarnemende munispale betuurder, Tebogo Motlashuping, het tydens ’n vraag in ’n raadsvergadering erken dat die Mangaung-metro 434 eise ontvang het van skade wat deur slaggate veroorsaak is.
Volgens Tjaart van der Walt, DA-Raadslid, is 296 van dié eise steeds uitstaande en die metro het al ’n massiewe R5 miljoen van Julie 2019 tot Junie 2022 betaal aan mense wat skade gely het weens slaggate in die metro se strate en paaie.
Verskeie redes word aangevoer oor waarom dit die munisipaliteit so lank neem om eise uit te betaal.
Volgens die metro neem talle aansoekers lank om die nodige dokumente in te dien en die ingenieursdepartement wat die eise moet ondersoek, neem ook lank om verslae te stuur.
Nog ’n rede volgens die Mangaung-metro is dat inwoners se eiendomsbelasting opbetaal moet wees voordat ’n eis aan hulle uitbetaal sal word en eise sloer soms omdat inwoners wat agterstallig met eiendomsbelasting is.
Van der Walt sê in ’n verklaring dit word verwelkom dat die metro onderneem om aandag te gee aan die 296 uitstaande eise, maar is bekommerd oor die effektiwiteit van die proses.
Hy sê die metro het te kenne gegee dat daar verskeie veranderinge ingestel kan word om die situasie te verbeter. Die metro sê die onderhoud en opgradering van paaie, die oprig van sigbare waarskuwingstekens en wetstoepassing wat spoedperke betref, is van die oplossings.
Die DA onderneem om die proses dop te hou en gaan ’n skrywe aan die munisipale bestuurder rig om seker te maak dat prosesse in plek is en dat padonderhoud gedoen word.