’n Bloemfonteinse oupa straal van trots oor sy eiesoortige pampoene nadat hy die saad uit Duitsland in sy groentetonnel geplant en sien opskiet het.
Japie van Zyl (80) en sy regterhand, Isak Mohlabanyane (45), se ellelange groen pampoene, wat Italiaanse slange of Cucuzzi genoem word, rank van bo na onder.
Dié wat vloerlangs seil, maak S-vorms en groei sonder ophou op die hoewe buite Bloemfontein.
Dit is die eerste keer dat hulle so vinnig groei nadat hy ’n paar pitte in Oktober geplant het, sê Van Zyl.
“Ek plant hulle elke jaar, maar hulle wil net nie groei nie. Dié jaar sit ek ’n paar pitte in en dáár gaan hulle.”
Hy meen die tyd was seker reg vir dié wonderwerk.
Met die pampoene wat so gedy, gee hy weg wat hy nie kan eet nie.
Op sy rekenaar wys hy foto’s van nog soorte tamaai pampoene wat hy vroeër geplant het – sommige wat volgens hom die skaal op 50 kg laat kreun het – asook kalbasse.
Hy verkoop sy pampoene en maak gemiddeld R10 000 ’n seisoen op die groentemark, vertel hy.
Hy sê resepte op die internet het hom geleer jy kan die pampoene stoom, kook of bak.
“Jy sny hom af, haal die pitte uit, sit suiker en botter in, maak hom toe en druk hom in die oond,” sê hy en lag uit sy maag.
Van Zyl maak ook grassnyers se enjins reg en hou hom besig met sy hoenderboerdery.
Soms word daar ook mampoer van die pampoene gestook, maar daaroor swyg Van Zyl met ’n stoute glimlag.
– Cheréne Pienaar