Een lyk is al gevind en nooddienste gaan voort met ‘n soektog vir nog nadat ‘n slikdam op die myndorp Jagersfontein vanoggend net ná 06:00 gebreek het.
Die Vrystaatse provinsiale regering het ’n rampbestuurspan gestuur om die omvang van die skade vas te stel.
Volgens die woordvoerder van die premier, Sisi Ntombela, Palesa Chubisi, is daar 35 mense met beserings soos kneusplekke en frakture na die Diamant-hospitaal in Jagersfontein geneem en vier is na die Albert Nzula-hospitaal in Trompsburg.
Huise en stukture in veral Charlesville en Itumeleng en op naburige plase is beskadig en onder modderwater en slik.Chusbisi sê daar is geen elektrisiteit in die dorp nie. Die hoofroete na die dorp is ook onder water.
Mense word nou uit die rampgeteisterde gebiede verwyder.
Daar word verwag dat Ntombela later vanoggend die dorp sal besoek.
Herman Lombard van NCA sê die omvang van die skade word nou vasgestel en daar sal bepaal word watter hulp benodig word. Hy sê daar het baie slik tot sover as 15 km vanaf die dorp gevloei en daar sal voer vir vee benodig word.
Organisasies soos Meals on Wheels en die Suid-Afrikaanse Rooikruis is op die toneel om vas te stel waar hulle hulp kan verleen.