p

Dr. Kruger du Preez wys tannie Rita Thurtell (93) hoe om op haar nuwe slimfoon na die woordbediening te luister.

Meer as 40% van die NG gemeente Aandbloem by die Westerbloem-aftreeoord kan weens die Covid-19-pandemie glad nie meer van dié kerk se woordbediening deel wees nie.

Volgens dr. Kruger du Preez, leraar by die gemeente, word sy en kollega ds. Christo Louw se preke Donderdae en Sondae per stemboodskap op ’n Whats­App-groep met gemeentelede gedeel.

“ ’n Groot persentasie van ons 600 lidmate in die sentrum het egter nie ’n slimfoon nie. Dus kan hulle nie na die preke luister nie.”

Hoewel die boodskappe by Ons Tuiste uitgesaai word, kan inwoners van wooneenhede oor die verskillende dele van Westerbloem nie bereik word nie.

“Ons mag die afgelope jaar en ’n half ook nie huisbesoek doen nie,” sê hy.

“Dit is vir ons swaar dat ons nie by gemeente­lede kan uitkom nie. Baie van hulle vereensaam. Hulle het in die weeklikse eredienste gemeenskap gevind, maar nou hoor hulle nie eens meer die predikant se stem nie.”

Dr. Helena Forster, inwoner van Westerbloem wat ook in die Sinodale Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid dien, sê hulle het toe ’n plan beraam om inwoners te help deur slimfone te skenk.

“Ons het eers onder inwoners gehoor of hulle ekstra slimfone het, en dit toe uitgedeel aan inwoners wat dit benodig. Ons kon vyf lidmate op hierdie manier help.”

Forster sê sy glo baie mense het ’n ou slimfoon of twee in die laai wat nuttig vir dié projek gebruik kan word.

“Ons sal so dankbaar wees as mense vir ons hul ou slimfone wil skenk.”

Tannie Rita Thurtell (93) het onlangs een van die geskenkte slimfone in ontvangs geneem.

“Ek sien so daarna uit om nou na die preke op die foon te luister,” sê sy.

“Ek luister gereeld na preke oor die radio, maar ek mis ons dominees se preke.”

Du Preez het Thurtell gereeld op haar landlyn gebel en haar só na die opgeneemde preek laat luister. Ongelukkig is dit baie tydrowend en kan hy dit nie vir al die gemeentelede sonder slimfone doen nie.

Du Preez sê daar is ’n groot behoefte onder gemeentelede om te luister na woordbediening wat spesifiek op hulle van toepassing is. Daarom die projek om selfone in te samel sodat meer gemeentelede daarin kan deel.

Forster sê hulle het ’n reëling met ’n plaaslike selfoononderneming wat aan hulle simkaarte verskaf.

“Ons haal ook al die onnodige toepassings af sodat net Whats­App oorbly en die bejaardes maklik toegang tot die groep kan kry.”

Du Preez sê die kommissie sal genoeg data verskaf aan mense wat slimfone ontvang sodat hulle na twee woordbedienings in ’n week kan luister.

“Ons stuur ook afkondigings op die groep en probeer om gemeentelede so ingelig te hou.”

  • Mense wat slimfone wil skenk, kan Forster by 072-015-3146 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.