In ’n oogwink het die Botha-gesin van Sasolburg se lewe dramaties verander nadat hul hond die agtjarige Arrianna Botha ’n jaar gelede by die huis aangeval het.
Arrianna moes die afgelope jaar talle veloorplantings aan haar kop, nek en gesig kry en is nou een van 22 kinders wat danksy die Smile-week rekonstruktiewe operasies in die Universitas- Akademiese Hospitaal kry.
Die LUR vir gesondheid in die Vrystaat, Mathabo Leeto, het die mediese span van Universitas asook die Smile-stigting en Momentum Metropolitan bedank vir die wonderlike geleentheid waarop kinders se lewe beter word.
“Armoede in Suid-Afrika bly toeneem en al meer mense is afhanklik van openbare hospitale,” het Leeto op die geleentheid gesê. “Ons is dankbaar vir vennote soos hierdie wat help om kinders se lewe beter te maak.”
Arrianna, ’n leerling van Noordskool in Sasolburg se klasmaats het vanoggend vir haar ’n klasfoto gestuur om haar sterkte toe te wens met die operasie.
Haar ma, Ailleen Botha, vertel Arrianna het op 20 September verlede jaar haar huiswerk gedoen en sy het wasgoed opgehang.
“Ek het skielik ontstellende geluide uit die kombuis gehoor. Toe ek daar kom, was Arrianna op die grond en ons hond het aan haar kopvel getrek,” vertel Ailleen. “Ek kon die hond van my kind afkry en ons het met haar na die Sasolburg-hospitaal gejaag waar hulle haar behandel het.”
Sy is kort daarna oorgeplaas na Universitas waar hulle vir drie maande lank veloorplantings op Arrianna se kop en gesig gedoen het. Ailleen vertel hulle het eers van kunsmatige vel gebruik gemaak, en later vel van Arrianna se bene af gebruik.
Nou gaan die mediese span by Universitas ’n ballon op haar kopvel inplant om haar haarlyn weer te vorm en om die kleur en tekstuur van die omliggende vel na te boots.
Ailleen sê hoewel Arrianna se klasmaats haar ondersteun en die skool hulle as ouers ondersteun, word sy deur van die ouer kinders in die skool geboelie.
“Ons is so dankbaar vir hierdie geleentheid,” sê Ailleen. “My man het sy werk verloor om daar te wees vir ons dogter terwyl sy in die hospitaal was. Al die kere waarop ons na die hospitaal in Bloemfontein moes kom, het ons geldelik geknou. Sonder Smile-week sou hierdie operasie nie moontlik gewees het om vir ons dogter die chirurgie te gee wat sy nodig het,” sê Ailleen.
Daar is later vasgestel dat die hond wat vir Arrianna aangeval het, ’n parasiet in sy brein gehad wat waarskynlik die rede was waarom dié sagmoedige dier haar aangeval het.
Nog een van die kinders wat reeds geopereer is, is klein Haylee van Zyl (2). Haar aanneem-ouers, Kobie en Lizelle Kruger, sê Haylee is met ’n gesplete verhemelte gebore en het danksy Smile nou ’n operasie ondergaan om die verhemelte te herstel. Daar is ook van haar tande tydens die operasie getrek om plek te maak vir ander en dreineringspypie in haar middeloor geïnstalleer.
Al het sy duidelik seer, hardloop dié woelwater die saal vol.
Dr. Nikita Blake, waarnemende departementshoof van plastiese en rekonstruktiewe chirurgie by Universitas, sê dit is dikwels ’n lang pad totdat die kinders 18 jaar oud is waarop die span na hulle omsien. “Ons doel is om die kinders se lewe so normaal as moontlik te maak. Dit is belangrik dat ouers weet dat daar uitkoms is vir hul kinders – mense wat hulle kan help,” sê Blake oor die Smile-stigting.