Tipies tiener is sy maar skaam, maar haar glimlag is pragtig.
Jackie Botes (13), ’n leerling van die Hoërskool Riebeeckstad in Welkom, is een van 18 kinders wat die afgelope week chirurgiese prosedures by die Universitas- Akademiese Hospitaal ondergaan het wat deur die Smile-stigting geborg is. Die operasies is van Dinsdag (11/04) tot Vrydag (14/04) uitgevoer.
Dr. Nikita Blake, chirurg by Universitas wat by dié week se operasies betrokke is, verduidelik dat in ’n geval waar ’n kind soos Jackie gebore word met ’n gesplete lip en verhemelte, daar ’n hele reeks operasies is wat deur haar jong lewe uitgevoer moet word.
Jackie se ma, Martha, sê haar dogter het op drie maande haar eerste chirurgiese prosedure aan haar lip ondergaan. Daarna is haar sagte en later haar harde verhemelte chirurgies herstel.
“Dit is ’n proses waarby ’n multi-disiplinêre span betrokke is,” verduidelik Blake. “Dinsdag het ons ’n klein stukkie been uit haar heup in haar boonste verhemelte oorgeplant.”
Die afgelope paar maande werk ’n ortodontis by die Pelonomi-hospitaal ook aan Jackie se tande om hulle met draadjies reg te trek en plek te maak vir van die nuwe tande wat uitkom.
Tussen die ouderdomme van 16 en 18 jaar sal sy ook chirurgie aan haar neus kry.
Nog ’n woelwater wat verveeld op sy hospitaalbed rondgesit het voor sy operasie, is die 12-jarige André Kitching. Hy het Donderdag rekonstruktiewe chirurgie aan sy ore gekry.
Sy ma, Deseré Pretorius, sê André word baie gespot by die skool oor sy ore en sy was dankbaar vir die Smile-stigting wat die operasie moontlik gemaak het.
André is ’n leerling aan die Laerskool Bloemfontein.
Blake sê dit is die beste om hierdie soort operasies te doen voordat ’n kind skool toe gaan om hulle teen spottery deur maats te beskerm.
Kim Robertson Smith, uitvoerende hoof van die Smile-stigting, sê teen die tyd waarop die kinders die hospitaal ná die Smile-week verlaat, is hulle deur ’n span professionele mense besoek wat onder meer dieetkundiges, spraakterapeute en sielkundiges insluit.
Die Smile-stigting, wat van donasies afhanklik is om die operasies moontlik te maak, het verlede jaar 87 kinders net in die Universitas-hospitaal gehelp.
Oor die land heen het dié stigting 1 066 operasies moontlik gemaak.
“Die operasies maak nie net die kinders se lewe makliker nie, in al die gevalle het dit ook ’n reuse-impak op hul mammas en gesinne,” sê Smith.
“Ons wil graag die stigma dat mammas iets verkeerd gedoen het as hulle kinders met ’n afwyking gebore word, verbreek,” het sy gesê. “Ons wil kinders se lewens met hierdie operasies verander. Ons wil hê hulle moet voel hulle lyk net soos hul maats.”
Blake sê dit is belangrik dat alle kinders besef dat almal verskillend is. Vir haar was dit ook ’n baie spesiale Smile-week. “Dit is my eerste Smile-week waarop ek self die mamma van twee babas is wat dieselfde ouderdom is as baie van die kinders wat ons hierdie week geopereer het. Dit stel hierdie werk wat ons as span doen in ’n nuwe lig.
“Dit is vir ons by Universitas baie lekker om so ’n wonderlike verhouding met die mense van Smile te hê,” het sy gesê oor vandeesweek se Smile-week.