As mooi, lekker sjokolade jou tone laat omkrul, dan moet jy eenvoudig Saterdag (01/10) ’n draai gaan maak op die Franse Mark by Villa Avianto.
Karin Brownrigg het in 2019 haar onderneming Sweet Craft Brigadeiro begin en haar lekkernye sommer so uit ’n skinkbord van winkel tot winkel in Bethlehem verkoop.
In Oktober van daardie jaar het sy ’n opskietwinkel in die Dihlabeng Mall in Bethlehem begin en ook ander geleenthede met soortgelyke winkels in Clarens gebruik.
“Ons het intussen na Bloemfontein verhuis en moes weens Covid-19 my besigheid ’n bietjie aanpas. Ek het besluit om die naam te verander na Kokoa Beads omdat ek ook kostuumjuwele wil verkoop.”
Karin sê sy het begin September die eerste keer by die Franse Mark uitgestal.
“Dit was die begin van lente en tyd vir ’n nuwe begin. Die uitstallers by die mark probeer om ’n titseltjie Frankryk by hul stalletjies te inkorporeer. Ek het dit gedoen met my eie sjefshoed in die kleure van die Franse vlag, ballonne en ’n rooi tafeldoek. Dit was sommer groot pret.”
Wat is ‘n brigadeiro?
‘n Brigadeiro lyk soos ‘n truffel, met die verskil dat truffels gemaak word van sjokolade en room en ’n tradisionele brigadeiro gemaak word van sjokolade en versoete kondensmelk.
“Brigadeiros is gewilde bederfies tydens Braziliaanse partytjies, verjaardagpartytjies en as nagereg by huweliksonthale,” sê Karin.
Sy maar ’n groot verskeidenheid vir enigiets van ’n henneparty, Valentynsdag en as geskenke.
“Ek maak dit in verskillende geure en het selfs suikervrye opsies vir dié wat wil smul sonder suiker.”
Die mark is Saterdag van 08:00 tot 15:00 by Villa Avianto in Kwaggafontein. Toegang is R30 en R20 vir kinders van gr. 1 tot gr. 7 en kinders jonger as ses se toegang is gratis.