Jan Braai het hierdie resep spesiaal vir Bloemnuus se eerste nuusbrief gestuur. Hy sê die beste biltong kom uit Bloemfontein – vandaar sy keuse vir dié resep.
As jy nog nie op die nuusbrief ingeteken het nie, doen dit sommer nou op Bloemuus se Facebook-blad sodat jy altyd ingelig kan wees.
Vir dié resep benodig jy:
* 12 snye brood
* botter
* 2 rooi uie (gesny)
* 1 sopie sagte bruinsuiker
* 1 sopie balsamiese asyn
* 1 koppie (omtrent 200 g) biltong (fyngekap)
* gewone roomkaas (1 houer is genoeg)
* 240 g cheddar-kaas (gesny of gerasper)
Jy laat waai só:
* Verhit botter of olie in ’n pan op die vuur en braai die ui tot sag. Gooi die suiker en balsamiese asyn by die ui en laat prut oor lae hitte vir so 15 tot 20 minute totdat die uie soet en taai is. Sit eenkant om af te koel (Die uie, nie jy self nie. Maar as jy warm onder die kraag is, gaan sit ook maar eenkant totdat jy weer lekker is).
* Gebruik jou aggressiefste, grootste en skerpste mes om die biltong fyn te kap. As jy nie ’n mes het wat by die beskrywing pas nie, koop een.
* Bou die braaibroodjies: Smeer botter aan of olie elke sny brood aan een kant (dis die kant wat buitentoe sal kyk wanneer jy eers die braaibroodjie aanmekaargesit het). Sit die helfte van die snye brood op hul botterkante neer en smeer roomkaas op al die snye. Skep nou ’n lagie van die gekaramelliseerde uie op en strooi die biltong en dan die cheddar-kaas oor. Bedek met die oorblywende snye brood – laat hul botterkante boontoe wys.
* Braaibroodjies is draaibroodjies. Jy moet braaibroodjies gereeld draai en jy braai hulle in ’n toeklaprooster. As jy nie een het nie, koop een – verkieslik ’n rooster met verstelbare diepte sodat jy elke broodjie reg kan vasknyp. Jy wil matige hitte hê en die rooster moet redelik ver van die kole af wees.
Jou doel is om die kaas gesmelt en die res van die vulsel lekker warm te hê teen die tyd dat die buitekante goudbruin is. Om te keer dat die braaibroodjies vassit, help dit as jy die rooster ’n paar keer oop-en-toe maak ná die eerste paar maal se omdraai.
* Sodra jou braaibroodjies reg is, sny jy elkeen in die helfte. Ek glo die regte manier om ’n braaibroodjie te sny, is diagonaal, en die regte tyd om dit te eet, is onmiddellik.
* Teken hier in op Bloemnuus se nuusbrief en bly altyd ingelig: https://netwerk24.us5.list-manage.com/subscribe?u=aca59ee9c2f6f5543c9097f22&id=3bd83050e0