Dit is daardie tyd van die jaar waarop jy planne moet maak om Pa op Vadersdag te bederf.
Kry sommer vandag die bestanddele om vir Pa Sondag (19/06) te bederf met ’n heerlike lamsburger met avokadopeer vir middagete.
Avokadopeer is goed vir die hart, jou gesondheid, jou energievlakke en geluk.
Boonop bevat dié lekker wintervrug vitamine, minerale en vesel en al die goeie vette wat jou energie gee.
Natuurlik is avokadopeer nie net heerlik op ’n roosterbroodjie nie, dit werk goed saam met vleis, groente, kruie en speserye.
Dit is ook ’n heerlike guacamole saam met skyfies – net die regte bestanddele vir lekker kuier om die kaggelvuur.
Hier is ’n resep vir Grieks-geïnspireerde lamsburger met avokado vir vier mense.
Die voorbereidingstyd is sowat 20 minute en die burgers kook gaar in ongeveer 20 minute.
Jy benodig:
* 500 g Griekse styl lamsworsies;
* 1 groot ui, fyn gesny;
* 4 hamburgerbroodjies, in helftes gesny en gerooster;
* 60 ml hummus;
* 2 klein avokadopere afskil en fyngedruk;
* slaaiblare;
* 2 ryp tamaties, in skywe gesny;
* tzatziki; en
* Sout en peper na smaak.
Maak nou so:
Haal die vleis uit die lamsworsies en deel dit in vier gelyke dele. Rol die hamburgerfrikadel plat.
Verhit ’n pan en braai die frikadelle oor ’n medium hitte tot goudbruin en kook deeglik. Hou eenkant en warm.
Soteer uie in die pan tot goudbruin.
Pak op die broodjie ’n lepel hummus, blaarslaai, tamatie en tzatziki, gevolg deur die frikkadel met die avokado en gebraaide uie heel bo voordat jy met die ander helfte van die broodjie toemaak.
Geniet!