Bloemfonteiners het uitgeblink in die eerste Suid-Afrikaanse preserveerkampioenskap.
’n Tradisionele gunsteling, makataanwaatlemoen, het opnuut gewys waarom dit ’n plek in die Suid-Afrikaanse kombuis verdien. Compagniesdrift se Makataan Chunks is op Dinsdag 19 Augustus op Lanzerac in Stellenbosch as die eerste Suid-Afrikaanse preserveerproduk van die jaar aangewys.
Die wenproduk was een van 456 inskrywings van 66 vervaardigers in die nuutgestigte Suid-Afrikaanse preserveerkampioenskap, aangebied deur Agri-Expo, die oudste landbougenootskap in die land.

‘n Gewilde uitstaller op die Langenhovenmark in Bloemfontein se vyfvrugte-marmelade is aangewys as die kampioen in die marmelade-afdeling. Petro Jordaan, wat al talle pryse vir haar gebottelde produkte gewen het, is baie in haar noppies met dié eerbewys.
Sy sê sy het van die kompetisie gehoor en besluit om dié marmelade in te skryf. Jordaan maak dit van vyf sitrusvrugte: lemoen, suurlemoen, pomelo, naartjie en koemkwat.
“Veral die koemkwat is net ‘n kort rukkie beskikbaar, en ek kan nie baie daarvan maak nie,” vertel sy.
“Maar ek het nog koemkwate waarmee ek van dié marmelade gaan maak.”
Sy sê deel van die prys is bottel-etikette wat aandui dat sy ‘n nasionale prys met die marmelade gewen het.

‘n Beoordelaarspaneel van 38 kenners het die inskrywings deur middel van ‘n streng blinde proeproses geëvalueer. Uiteindelik is 70 produkte van 29 vervaardigers as Suid-Afrikaanse kampioene aangewys, met 11 afdelingwenners wat bo uitgestyg het.
“Suid-Afrikaanse verbruikers kan werklik kies en keur wanneer dit kom by gehalte,” sê hoofbeoordelaar Susina Jooste, koskenner en opleidingspesialis.
“Compagniesdrift se makataanstukke het uitgestaan met ‘n wenkombinasie van voorkoms, smaak, tekstuur en gehalte. Om die produk van die jaar in ‘n kompetisie van hierdie kaliber te wees, is ‘n besondere prestasie.”
COMPAGNIESDRIFT SE TROTS
Ilse Ruthford, besturende direkteur van Compagniesdrift in Stellenbosch, sê dié nasionale eerbewys is ’n groot mylpaal vir hul span.
“Landbou is ons trots en vreugde. Ná ons in 2014 ‘n groentetuin aangeplant het, het ons ‘n reeks preserveerprodukte ontwikkel om verskillende gewasse – soos makataanwaatlemoen – met verbruikers te deel. Vir my is dit veral spesiaal want ek het daarmee grootgeword en sit hiermee my ouma se tradisie voort. Lena Conradie, wat die maketaanstukkonfyt kook, sê altyd jy moet kook uit die hart uit en geduld hê want dis ‘n lang proses. Hierdie nuwe kampioenskappe bied vir vervaardigers ‘n inspirerende maatstaf en ondersteun uitnemendheid in landbou. Ons is ongelooflik trots.”
NUWE PLATFORM VIR PRESERVEERPRODUKTE
Volgens Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo en organiseerder van die kampioenskappe, is die kompetisie geskep om preservering in die kollig te plaas, erkenning aan topgehalte produkte te gee en sodoende ekonomiese ontwikkeling te help bevorder.
“Die groot aantal inskrywings wys duidelik daar is ‘n behoefte in die bedryf vir só ‘n platform,” sê Milford.
“Die uitslae getuig van ’n innoverende sektor en gesonde mededinging – van gevestigde handelsmerke tot kleiner en opkomende vervaardigers. Baie geluk aan al die wenners.”
ELF AFDELINGWENNERS AANGEKONDIG
Die volgende produkte is as beste in hul kategorie aangewys (alfabeties):
- Blatjang: Montagu Foods Shoprite Housebrand/Ritebrand Peach Fruit Chutney.
- Groente in sous: Creative Cuisine Pantry Curried Baby Onions.
- Ingelegde groente: Jumping Jackal Delicacies Pickled Jalapeño Whole.
- Ingelegde vrugte: Kloovenburg Olives Black Olives in Blackberry Dressing.
- Jellies: Domein Doornkraal Plum Jelly.
- Konfyt: Uit-Die-Bottel Quince Jam.
- Marmelade: Hemelhuijs Kumquat Conserve.
- Pesto: Pesto Princess Sundried Tomato Pesto.
- Relish: Miami Boerie Relish, Sweet Tomato.
- Tapenade: Willow Creek Olive Tapenade with Black Olives, Anchovies & Capers.
- Vrugte in stroop: Compagniesdrift Makataan Chunks (Suid-Afrikaanse preserveerproduk van die jaar).




You must be logged in to post a comment.