Heerlike winterweer word voorspel vir Saterdag (03/06) se Franse Wintermark by Villa Avianto in Kwaggafontein.
Die mark begin om 08:00 en duur tot 15:00.
Van die eetgoed waarna markgangers kan uitsien, is gourmet-sop en heerlike brode, goeie wyn, tradisioneel gebraaide hoender en varsgebak.
Vir die kinders is daar ’n outydse speelpark met ’n glyplank, swaaie en hobbelperdjies. ’n Springkasteel, sandput, swaaie en plaasdiere is ook hier vir die kinders se vermaak.
Vir die dors is daar mikrobier en jenewer, asook barista-koffie teen die vroegmôre koue.
Uitstallers bied, onder meer, ’n verskeidenheid kosstalletjies, fyngebak wat heerlike koek insluit, ’n verskeidenheid kaas en ander lekkernye.
Daar is ook uitstallers wat byvoorbeeld ontwerpersklere vir volwassenes, babaklere, juwele, haarbykomstighede en verskeie handgemaakte hout- en leerprodukte ten toon stel.
Mooi dekor-artikels vir die huis kan ook op die mark gekoop word. Daar is ’n groot verskeidenheid handgemaakte seep, serpe, rome, kerse en vele meer – voorwaar ’n mark met gehalteprodukte en ’n heerlike atmosfeer.
Die bekende Bloemfonteinse musikant Petro Engelbrecht gaan gaste met trekklavier-musiek vermaak.
Toegang kos R30 vir volwassenes en R10 vir laerskoolkinders.
Kinders jonger as ses jaar kry gratis toegang.
Vir meer inligting skakel 083-329-4872 of besoek villa-avianto.co.za.