Die bal is aan die rol en daar word hard beplan aan die De Oude Kraal-landgoed buite Bloemfontein se immergewilde WildsKOSfees.
Dit vind vanjaar op 10 Junie plaas en gaan weer bestaan uit ’n fees van smullekker wildsvleisgeregte, smaaklike braaigeregte vir die minder avontuurlustiges en gourmet-happies wat saam met uitgesoekte wyn bedien word.
Wildswors gemaak deur De Oude Kraal se personeel sal ook vanjaar op die fees te koop aangebied word.
Gerhard Lombard van De Oude Kraal sê 22 wynplase sal weer verteenwoordig word, met feesgangers wat ses wyne van elk kan proe.
Die wyn sal ook op die fees te koop wees.
Die fees begin vanjaar ’n raps vroeër, op versoek van die publiek, en sal van 10:00 tot 16:00 duur.
Kaartjies kos R595 en daar is ook 100 kaartjies teen R1 000 beskikbaar wat toegang na die gourmet-saal bied.
Kaartjies vir die fees is beskikbaar by Crazy Daisy in die Fleurdal Mall, Daisy & Co by Prellerplein of deur De Oude Kraal by 051-564-0733 of 071-679-6596 te kontak.
- Bloemnuus(’n publikasie van Sentraal24) is weer die gedruktemediaborg van die geleentheid.
Hou Bloemnuus, ander koerante van Sentraal24, asook Bloemnuusse blad op netwerk24.com (klik op “Streeknuus” boaan dié blad en kies dan Bloemnuus) dop vir inligting oor die fees, asook resepte wat deur Marie Lombard van De Oude Kraal saamgestel is.