Marie Lombard (links) en Marie-Louise Nel berei ’n fynproewersgereg vir die WildsKOSfees voor. Foto: Verskaf


Saterdag gaan daar heerlik gekuier word op die 22ste WildsKOSfees by die De Oude Kraal-landgoed.

Een van vanjaar se nuutjies is dat ’n spesifieke wyn by ’n wildskosgereg gepas word. Benewens ’n verskeidenheid wyn en wildskos- en ander geregte kan besoekers dus uitsien na aanvullende smake wat spesiaal gekies is om by mekaar te pas.

Nog ’n eerste is die skaapkoppe wat die manne van die Wilde Weste-skaapkopgilde van Bainsvlei gaan voorberei en aan besoekers gaan bedien.

Diegene wat dus oor skaapkop gaande is, of dapper genoeg voel om ’n eerste keer aan ’n skaapwangetjie te proe, kan gerus by dié stalletjie ’n draai gaan maak.

Die fees, wat Saterdag (04/06) van 11:00 af aangebied word, bied ook vanjaar spesiale kaartjies teen R950 aan diegene wat aan Marie Lombard en Marie-Louise Nel se fynproewersgeregte saam met uitsoekwyne wil smul. Slegs ’n beperkte aantal van dié kaartjies is beskikbaar.

Op vanjaar se WildsKOSfees kan gaste uitsien na topwyne van landgoedere soos La Motte, De Grendel, Diemersdal, Spier, Kleine Zalze, Bosman, Meerhof, Thelema en Eenzaamheid.

Volgens Lombard is die doel van die fees om besoekers te wys wat ’n mens alles met wildsvleis kan doen. Hoewel hul wildspasteie as smelt-in-die-mond-lekker beskryf word, is wildsvleis baie veelsydig en bied dit meer as net dié tradisionele moontlikheid. Sy sê elke wildsoort het sy eie smaakfasette waarmee ’n mens kan werk.

Benewens skaapkop kan besoekers aan springbok, blouwildebees, rooihartebees, gemsbok, swartwilde­bees, vlakvark, bosvark, waterbok, krokodil, ystervark en duif smul.

Bees-, skaap-, vark-, hoender en visgeregte sal ook bedien word, asook die gewone smullekker bykosse.

Benewens die verskeidenheid kos sal verskeie aktiwiteite ook gebied word. Dit sluit in kleiduifskiet vir almal ouer as 14 jaar, trekker-en-wa-ritte, teikenskiet met .22-gewere en ’n gholfhou-uitdaging.

Vermaak sal verskaf word, met Herman Kleinhans wat die hoofkunstenaar vir die dag is.

Ander kunstenaars wat gaan optree, is Cézanne Yzelle, Naledi Mohapi en Ryk Kleinhans.

  • Kaartjies kos R550 en is by die Delta-drankwinkel, Crazy Daisy in die Fleurdal Mall en Daisy and Co by Prellerplein beskikbaar. Belangstellendes kan De Oude Kraal by 051-564-0733 kontak. Die spesiale kaartjies teen R950 is net by De Oude Kraal beskikbaar. Skakel 051-564-0733 om te bespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.