Die einde van ’n era het die hoof van die Laerskool Sand du Plessis by tye bewoë gelaat terwyl personeel en leerlinge op ’n geleentheid Donderdag (16/03) van hom afskeid geneem het.
Jaco van der Merwe, wat die afgelope 22 jaar in dié pos was, tree einde Maart af.
Leerlinge het ’n erewag gevorm en hande geklap toe hy Donderdag by die skool aankom. Daarna het talle kinders nader gegaan om vir hom ’n drukkie te gee voordat die saalbyeenkoms later begin het.
“Om hier die skoolhoof te kon wees was ’n eer. Dit was wonderlik om te sien hoe elke gr. 1-pienkvoet ontwikkel totdat ons hulle as tieners die lewe in stuur,” meen dié geliefde hoof.
Van der Merwe, wat die grootste deel van sy skoolloopbaan in Ladybrand deurgebring en matriek aan die Hoërskool Ladybrand voltooi het, het aan Kovsies onderwys studeer.
“Op kollege het ek eendag vir ’n rugbyskeidsregtersvergadering na die Laerskool Sand du Plessis gekom en gedink: Dit sal lekker wees om eendag hier skool te hou.”
Nadat hy studeer het, is hy weermag toe voordat hy 15 jaar lank aan die Laerskool Fontein in Sasolburg skoolgehou het. Daar is hy later as departementshoof aangestel en het hy eindelik as adjunkhoof waargeneem.
In 2000 is hy as adjunkhoof in Bredasdorp aangestel, voordat sy lewenspad hom in 2001 na Bloemfontein teruggebring het as hoof van die Laerskool Sand du Plessis.
“Die onderwysers hier is baie bekwaam, en ons is daar vir mekaar. Ek gaan hulle en die kinders baie mis. Ek gaan die kinders se drukkies in die oggende mis.”
Met sy aanstelling destyds het hy beloof dat Sand du Plessis Afrikaans en Christelik sal bly.
“Ek glo kinders moet nog kaalvoet loop en die aarde onder hulle voel.”
Net voordat die skole in 2021 ná die Covid-pandemie heropen het, het hy en van die onderwysers saam met vrywilligers gehelp om gras te sny en die terrein weer netjies te maak.
“As die pandemie my enigiets geleer het, is dit hoe aanpasbaar die mens is. Daardie eerste oggend toe die gr. 1’s by die skool kom, het daar sulke bang ogies bokant die maskers uitgeloer. Sommer gou het hulle by die nuwe omstandighede aangepas.”
Van der Merwe was ook ’n rugby- en krieketafrigter en sê van die hoogtepunte was sporttoere.
Wat sy aftrede betref, beplan hy en sy vrou, Esther, om gereeld lang woonwavakansies te onderneem. Sy werk nog by die St. Michael-skool, so dié vakansies sal nog ’n bietjie moet wag.
Die egpaar is baie lief daarvoor om motorfiets te ry, en hy geniet ook diepseeduik. Van der Merwe sê een van die wonderlikste ervarings was om in die Rooisee te kon duik. Hulle het daar vir sy seun Driaan (31) en sy vrou, Deniel, gaan kuier.
Van der Merwe het onlangs ’n eerste keer oupa geword en baba Minieke was saam met mamma Bianca en sy oudste seun, Conrad (32), op die saalgeleentheid vir sy afskeid.
Ook sy stiefseun, Marlo, ’n student, het die geselligheid bygewoon waar Van der Merwe se skoolfamilie van hom afskeid geneem het.