’n Wyse man het eendag gesê: “Moenie verbaas wees, as jy heeltyd krokodileiers uitbroei, dat die einste krokodille jou aanval en opvreet wanneer hulle groot is nie.”
Kyk ’n mens na die politieke landskap in Suid-Afrika, is ’n menigte reusagtige krokodille besig om links en regs te hap, en hul tande diep in te slaan – daar waar dit seermaak.
Dié uitgegroeide knewels is afkomstig van krokodileiers van die verre en onlangse verlede wat so lekker warm uitgebroei is.
Elke knewel kan ’n naam kry, van A tot Z, en weer ’n keer.
Apartheid. Baantjies vir boeties. Cholera.
Dom-astrantheid. E-coli. Gulsigheid. Kaderontplooiing. Korrupsie. Onbevoegdheid. Regstellende aksie. Staatskaping. Wanbetaling. Werkloosheid. Zenofobie.
Die brand wat verlede week in ’n “gekaapte” gebou in Johannesburg uitgebreek het, is ’n uitgebroeide eier wat ’n monster geword het.
So ook die haweloses in Kimberley waarvan talle onlangs weer “huis” gemaak het in die skadu van Cecil John Rhodes se standbeeld, en binne dié veelbesproke standbeeld se veiligheidsheining.
Riool spoel deur huise, langs spoorlyne en paaie, deur grafte – van hier tot daar, en oraloor, en alles ruik pure krokodil.
Krokodille in elke dorp en stad byt gate in varswaterpype, knibbel die koper van kragkabels af.
Krokodille met ’n allemintige eetlus het die staatskoffers leeg, hospitale en departemente wanfunksioneel.
’n Senior ekonoom van PwC, Xhanti Payi, waarsku in ’n radio-onderhoud dat ’n hoë risiko in Suid-Afrika bestaan vir sosiale en ekonomiese onrus weens die hoë werkloosheidsyfer, ongelykheid en toenemende wetteloosheid.
Hy sê die United Nations Development Programme het reeds gewaarsku dat die hoë werkloosheidsyfer “ ’n tikkende tydbom is”.
Gaan ons aanhou “krokodil” – so dryf-dryf?
Gaan ons die krokodille omdop en hulle in skoene en handsakke omskep?
Iets moet gebeur; dit is byna reeds te laat vir krokodiltrane.
Krokodille in elke dorp en stad byt gate in varswaterpype, knibbel die koper van kragkabels af.