Die Suid-Afrikaanse Weerdiens se voorspelling van hewige reën vir vandag. Foto: SA Weerdiens


Hoewel Bloemfonteiners vandag heeldag bibber en daar selfs die vooruitsig is van reën later vandag, lyk dit of die voorspelling vir die naweek heelwat gunstiger is.

Trotseer gerus die koue vandag van 17:00 af en gaan inloer in by die Langenhoven-winteraandmark. Daar sal kosstalletjies, musiek en vars produkte wees.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel ’n gedeeltelik bewolkte dag Saterdag (22/07), met ’n maksimum-temperatuur van 17°C en minimum van 6°C.

Geen reën word vir môre voorspel nie.

Die voorspelling vir Sondag is ’n heerlike maksimum van 22°C en ’n minimum van 4°C.

Nie baie buitelug-aktiwiteite is vir die naweek in Bloemfontein beplan nie.

Hier is egter ’n lekker uitdaging vir almal wat dit geniet om in die grond te vroetel: Die personeel van die Vrystaatse Nasionale Botaniese Tuin gaan oud en jonk wys hoe om plantvermeerdering te doen.

Bring tuinhandskoene, potplantgereedskap en tuinklere, en kom plant lekker by die potskuur van 09:30 af.

Dit is ter voorbereiding vir die botaniese tuin se inheemse plantverkoping in Oktober. Om die oggend by te woon bespreek vooraf by Deon Potgieter by 083-599-7145.

Onthou ook van die musikale blyspel Moments – I am Young met die musiek van Sonja Herholdt en Anton Goosen Saterdag om 18:00 by Leopards and Lace. Kaartjies kos R100 by quicket.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.