Niks kan blykbaar meeding met bokkoors nie. Dis nou die lekker bietjie kopverloor wanneer jy ná ure se geduldige gewag in die veld onverwags ’n dier in die visier kry.
Jou hart hamer in jou borskas, jou asem jaag en jou hande raak eenvoudig te haastig, sodat dit half onmoontlik voel om die geweer te lig en die sneller selfversekerd te trek.
Kos dit jou ’n bok, vertel jy agterna maar liewer nie te veel nie. Kry jy daardie kopskoot geskiet al tref die bewerasie jou ook hóé, dán maak jy die pap sommer mooi dik aan met elke keer se oorvertel.
Nouja. Daar is dít.
Dan is daar Bokkoors. Springbokrugbykoors. Wêreldbekerrugby-kampioenekoors.
Dit smaak na biltong en tjips en doopsous. Ruik na braaivleisvuur. Lyk na opspring en skrou, al ken jy nie eens mooi die reëls nie. Voel na hoendervel. Klink na “Die Bokmasjien” en Schuster se stem.
Skielik steur jy jou aan die voorwedstryd-praatjies; let jy op na die statistiek oor sleutelspelers; stel die TV se klank harder vir die volksliedere; staar jy oopmond na die haka.
Springbokrugbykoors laat jou spelers wat jy nog nie drie keer vantevore gesien het nie op die voornaam noem. Of heel gemaklik op hul byname, so asof hulle jou skoolmaat of ’n nefie is.
Jy raai op meer as een plek getrou die telling en wed selfs ’n kleingeldjie daarop, ter wille van die gees.
As jy jouself weer kry, spring jy op ’n rusbank en swaai jou arms terwyl jy roep: “Wyd, gaan wyd!” Sonder dat jy ’n idee het waarheen wyd is en hoekom dit ’n goeie ding sou wees om só te maak.
Goed, daar is dan dít ook.
Dan is daar Springbok-ondersteunerhemp-koors. Bokkie die gelukbringer se baba-broekpakkie-beduiweldheid. Groen-en-goud-chaos.
Nadat die Bokke in hul eerste wedstryd van vanjaar se toernooi in iets heeltemal anders as die tradisionele uitgedraf het, was daar oproer en ontstuimigheid.
Heeltemal te verstane, want hoe kan dit dan nou anders as ons almal getrou ons deel gedoen het om elke Vrydag en elke Springbokwedstryddag soos een van die span te lyk?
As trotse bokke vir sports loop ons breëbors rond – oud en jonk, groot en klein, of selfs nog stewig in die doeke.
So dik loop die geesdrif dat dit in ’n stadium gelyk het asof daar in die ganse Bloemfontein net babakleertjies en heelwat groter nommers oor is.
Dit het teen wil en dank ’n soort matige paniek tot gevolg, want die proses verloop so: Eers kan jy nie minder omgee of jy ’n Bokhemp het of nie. Dan trek jy onder groepsdruk maar die enigste groen T-hemp in jou klerekas aan. Hierna ervaar jy ’n vae gevoel van minderwaardigheid en dalk selfs afguns. Daarna teleurstelling as jy niks in jou nommer in die winkels kry nie. Wanhoop broei met die aanlyn soektog, en skuldgevoel met die druk van die koop-knoppie.
Maar Bokka, die dag dat jy daardie Springboktrui – ag ek bedoel, ondersteunershemp – oor die kop trek . . .