Een van die Fichardtpark Woonbuurtvereniging (FWA) se doelwitte is om dié woonbuurt se koolstofvoetspoor te verminder.
Die vereniging wil ook die hoeveelheid vullis wat op die swak bestuurde vullishope in die stad beland, verminder.
Dit was dus vir die vereniging lekker om die Rosenheim-aftreeoord in Fichardtpark te help om sy eie herwinningspunt op te rig en inwoners oor herwinning in te lig.
Die aftreeoord het 197 eenhede en dié ruimte wat spesiaal ingerig is sal inwoners baie help om herwinning te vergemaklik.
Met ’n borgskap van Petco is agt asblikke vir herwinning in vier verskillende kleure op 25 Mei na Rosenheim gebring.
Duart Hugo, voorsitter van die FWA se omgewingskomitee, en nog ’n komiteelid, dr. Ina Faber, het inwoners vertel hoe die herwinning hier sal werk. In die rooi asblikke word plastiek geplaas, in die geel asblikke blikkies, in die groen asblikke glas en in die blou asblikke papier. Zirk Pretorius van Green Waste gaan dié herwonne materiaal elke Donderdag oplaai.
Ander huishoudings in Fichardtpark kan elke tweede en laaste Saterdag van die maand tussen 09:00 en 11:00 hul herwinbare materiaal na die parkeerterrein van die Fichardtpark-biblioteek neem.