Kamogelo Baukudi (19) wat vanoggend vroeg veilig deur die polisie in Wepener gevind is.

Dit is reeds 13 dae sedert die ontvoering van Kamogelo Baukudi, ‘n gr. 11-leerling van die Martie du Plessis-skool in Bloemfontein. Kamogelo is ontvoer deur twee mans wat voorgegee het dat hulle polisiebeamptes is.

Die Vrystaatse LUR vir Onderwys Dr Mantlhake Maboya het Sondag weer ‘n beroep op die publiek gemaak om die polisie te help om Kamogelo veilig huis toe te bring.

Lede van die onderwysdepartement het verlede week ‘n gebedsdiens by Martie du Plessis bygewoon om ondersteuning vir Kamogelo en sy familie te wys.

Maboya sê die departement werk nou saam met die polisie en ander vennote om Kamogelo se veilige terugkeer te verseker.

Volgens Howard Ndaba, woordvoerder van die departement van onderwys in die Vrystaat, werk ‘n span onverpoos om die seun en verdagtes te soek.

‘n Polisiesersant (42) het op Maandag 9 Junie in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn en die saak is tot Vrydag 13 Junie uitgestel. Klagte van ontvoering en afpersing is intussen by die klagstaat gevoeg. Hy moet weer op 24 Junie in die hof verskyn om om bortgtog aansoek te doen.

Kamogelo is Donderdag 5 Junie by die skool opgelaai en was omstreeks 11:30 in ‘n Suzuki Ertiga in Vereenigingrylaan onderweg. Die insittendes van ‘n wit Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkie, wat die indruk geskep het dat dit ‘n polisievoertuig is omdat dit onder meer met blou ligte toegerus is, het die bestuurder van die Ertiga van die pad laat aftrek. Hulle het beweer dat die voertuig waarin Kamogelo vervoer is, met dwelmhandel in verband gebring kan word en het Kamogelo in die bakkie gelaai en die bestuurder beveel om na die Parkweg-polisiekantoor te ry. Kamogelo is nog nie weer gesien nie. 

Jan van Niekerk, die VF Plus-provinsiale leier in die Vrystaat, het verlede week in ‘n nuusverklaring gesê die Vrystaatse polisiekommissaries, lt.genl. Baile Motswenyane, moet alle moontlike hulpbronne spoedig aanwend om die motiewe agter die ontvoering te ondersoek.

“Dit is veral belangrik omdat een van die ontvoerders luidens berigte glo ‘n polisiebeampte is. Die feit dat ’n lid van die polisie aan só ’n ernstige misdaad verbind kan word, is niks minder as n skande en skokkend nie,” sê Van Niekerk.

“Die inwoners van die Vrystaat is siek en sat vir die vlaag misdaad wat hulle daagliks bedreig, des te meer wanneer dié misdade uit die geledere uit die polisiediens self spruit.”

Enigeen met meer inligting wat die voorval in Vereenigingrylaan gesien het, kan  lt.kol. Kelaotswe Lebodi by 082 527 6348 of kapt. Sabata Jafta Moseme by 082 526 2713 bel; of 08600 10111 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.