Daar is min vrugte wat die winter so spesiaal maak soos avokadopere.
Siende dat Augustus vroue-maand is, is avokado’s die perfekte bederfkos vir vroue.
Romerige avokado’s is nie net lekker in ’n verskeidenheid geregte nie, dit is ook uiters voedsaam.
Navorsing het bewys dat die glutien in avokado’s, saam met die onversadigde vette, vesel en bioaktiewe middels, jou breingesondheid in besonder bevorder.
Dit is dus uitstekend vir vroue wat dikwels meer as een taak op een slag moet verrig.
Boonop is dié vrug ook baie goed vir swanger vroue – dit bevat voedingswaarde wat goed is vir die gesondheid van beide ma en die groeiende baba.
Avokado’s is ook fantasties as deel van ’n goed beheerde energie-dieet en vir gewigsverlies.
Volgens die Suid-Afrikaanse Avokadopeer-kwekersvereniging laat avokadopeer ’n mens vinnig versadig voel en dit keer dat jy jou ooreet of bly peusel. Dit bevat vitamien B (biotien) wat help met die instandhouding van normale hare en vel.
Hier is ’n resep vir ’n soesjislaai waarmee jy jou gesin kan bederf.
Die slaai is genoeg vir 6 tot 8 gaste.
Dit sal jou sowat 20 minute neem om alles voor te berei en 30 minute om gaar te maak.
Avokado-soesjislaai
Jy benodig
* 330 g (1½ koppies) soesji rys;
* 180 g (1 koppie) kinoa;
* 80 ml rysasyn;
* 15 ml strooisuiker;
* ’n groot knip sout;
* 2 klein avokadopere, afgeskil en ontpit en in repe gesny;
* 1 groot wortel, gerasper of in repe gesny;
* 6 baba-komkommers, in dun repe gesny;
* 4 radyse, in repe gesny;
* gepiekelde gemmer, opgesny;
* 60 ml Japanese mayonnaise;
*10 ml sesamsaad, gerooster;
* ? koppie sojasous; en
* wasabi en geroosterde, fyngeskeurde seewier om die slaai mee te bedien.
Maak nou so
Kook die soesjirys volgens instruksies en kook daarna die kinoa ook volgens instruksies soos aangedui op die pakkie.
Terwyl die rys kook, geur dit met die rysasyn, strooisuiker en sout.
Wanneer die rys gaar is, verwyder van hitte en dreiner dit in ’n vergiettes. Gooi die warm rys nou op ’n bakplaat en sprei dit uit met ’n spatel om af te koel.
Dreiner die kinoa en laat dit afkoel.
Wanneer alles afgekoel is, meng die rys en kinoa en skep dit in ’n plat bak waarin jy die rys gaan bedien. Rond af met die avokadopeer, wortel, komkommer, radyse en gemmer.
Sprinkel die Japannese mayonnaise en sesamsaad oor.
Bedien die slaai saam met die sojasous, wasabi en geroosterde seewier.