Van ‘n beskeie begin in 1995, na ‘n 40-bed-daghospitaal met vier teaters.
Dit is die merkwaardige groei wat CityMed Daghospitaal, wat by Prellerplein gevestig is, die afgelope 30 jaar beleef het.
CityMed het, soos die naam aandui, in 1995 in Bloemfontein se middestad ontstaan om private gesondheidsorg bekostigbaar en toeganklik te maak vir meer Suid-Afrikaners.

Die daghospitaal wat later na Prellerplein verhuis het, en aanvanklik 20 beddens en twee teaters gehad het, bied die geleentheid aan medici om chirurgiese prosedures te doen waarvoor pasiënte geen oornaggeriewe benodig nie. Die geriewe is mettertyd uitgebrei na die 40-bed-hospitaal wat vandag op die boonste verdieping van Prellerplein geleë is.
Ook, van ‘n gerief wat hoofsaaklik gefokus het op tandheelkundige prosedures, is die dienste deur die jare uitgebrei om multidissiplinêre prosedures moontlik te maak.
CityMed is lid van die Daghospitaalvereniging van Suid-Afrika (DHASA). Al die prosedures wat hier gedoen word, word deur geregistreerde medici uitgevoer.
Die dissiplines wat deesdae algemeen hier hanteer word, sluit in: dermatologie, oor- neus- en keelchirurgie, ginekologie, ortopedie, urologie, plastiese chirurgie, tandheelkunde, mond- en kaakchirugie asook algemene chirurgie.
Jana Britz, hospitaalbestuurder, sê namate tegnologie vorder, word al hoe meer prosedures hier gedoen.
“Deesdae word heup- en knievervangings algemeen in ‘n daghospitaal gedoen,” sê sy.

“Een van die talle voordele van ‘n daghospitaal is dat daar nie ‘siek’ mense is nie − die risiko vir infeksie is heelwat minder.
“Die hospitaal is nie deel van ‘n korporatiewe struktuur nie − almal wat hier werk, is soos een groot familie. Dokters geniet dit om hier hul operasies te doen,” verduidelik Britz.
“Dit is vir ons as personeel ‘n groot voorreg om al 30 jaar lank hierdie diens te lewer.”
Die daghospitaal spog reeds met een laminêre-vloeiteteaer, met ‘n tweede een wat binnekort ingerig word.

Benewens die goed toegeruste teaters, is die herstelsale vir volwassenes en kinders huislik ingerig.
Vir kinders is daar ‘n speelkamer.
Britz sê die diens aan die gemeenskap is in 2022 uitgebrei met die opening van ‘n 32-bed- fisieke rehabilitasiesentrum wat naas die daghospitaal by Preller-plein geleë is.
Deel hiervan is vyf hoësorgbeddens.
“Pasiente wat byvoorbeeld in ‘n motorongeluk was, ‘n beroerte gehad het of amputasies moes ondergaan, of wat van ander ernstige siektes of beserings moet herstel, word hier deur ‘n multidissiplinêre span versorg,” bevestig Britz.



You must be logged in to post a comment.