Die kompetisie om die hoogste bod op ‘n glas dubbelbrandewyn-en-Coke het op Vrydag 23 Mei op die Lettie Fouché- Spesiale Skool se manneaand ‘n allemintige R100 000 vir dié skool ingesamel.
Janu de Beer, voorsitter van Lettie Fouché se beheerliggaam, sê die tradisie het so ‘n paar jaar gelede begin toe wyle sakeman Jacques Strydom ‘n “brannas en coke” vir R65 000 gekoop het.
Die bod is verlede jaar op die Hoërskool Pres. Steyn se manneaand na R80 000 verhoog; met ‘n ronde
R100 000 wat vanjaar op dié enkele artikel gebie is.
De Beer sê hulle is baie tevrede met die wins van die veiling op die manneaand, waar Steve Hofmeyr die gaskunstenaar was. Tussen 80 en 100 karkasse op die haak is op die aand opgeveil, asook wildspakette en ander ware. Hy sê hulle wil nie die inkomste uit die aand bekend maak nie, maar “elke sent help baie.”
Vanjaar het 1 000 mans dié gewilde manneaand, ten bate van die skool, bygewoon.