Span bereik sukses op sukses

Die kampioen-hokkiespan van die Hoër Meisieskool Oranje het weer geseëvier.


Die hokkielspan van die Hoër Meisieskool Oranje is as die kampioen tydens die Super 12-hokkietoernooi wat van Vrydag (05/08) tot Sondag by dié skool aangebied is, gekroon. Altesaam 12 van die land se beste hokkieskole het aan die toernooi deelgeneem.

Oranje het die toernooi in 2014, 2015, 2016, 2017 en 2019 gewen, met geen toernooie wat die afgelope twee jaar aangebied is nie. Die Hoërskool Menlopark was in 2018 die wenner.

Oranje en die span van Eunice High School het Sondag in die eindstryd teen mekaar gespeel.

Die span van Oranje word as die beste o.18-hokkiespan in die land gereken, met Eunice naasbeste.

Benewens dié twee Vrystaatse skole was die Hoërskool Voortrekker van Bethlehem vanjaar deel van die kompetisie. Voortrekker is derde op die ranglys.

Voor die eindstryd Sondag het Oranje Eunice ook op 2 Augustus in die Suid-Vrystaatse o.18-kampioenskap geklop. Dié naelbytstryd het ’n oorwinning van 3 – 2 vir Oranje ingehou.

Oranje het sy plek in die eindstryd van die Top 12-hokkietoernooi bespreek met ’n oorwinning van 4 – 0 in die halfeindstryd oor Herschel Girls’ School van Claremont in Kaapstad. Eunice het Durban Girls’ College in die ander halfeindstryd met 2 – 1 geklop.

Dit was Sondag die vierde keer vanjaar dat dié twee Bloemfonteinse spanne teen mekaar meegeding het, met die eerste kragmeting, op 8 April, wat gelykop met ’n telling van 0 – 0 was en Eunice wat Oranje op 10 Mei met 2 – 0 geklop het.

Sondag het kaptein Ané Janse van Vuuren haar span van Oranje na ’n oorwinning van 3 – 1 teen Eunice gelei. Ané is ook as speler van die toernooi aangewys vir haar uitstekende spel.

Dié oorwinning is ’n blye afskeids­geskenk vir afrigter Morné Odendaal.

Odendaal verlaat Oranje ná byna ’n dekade vir ’n geleentheid in Amerika.

Die span van Oranje was bo-aan die poel ná die uitspeelwedstryde met oorwinnings oor Pearson High School in Gqeberha (3 – 1); Collegiate Girls’ High School, ook in Gqeberha (3 – 0), Paarl-gimnasium (2 – 0) en St. Mary’s Waverley in Johannesburg (3 – 0). Oranje het sy wedstryd teen Durban Girls’ College verloor (2 – 4), maar het met die halfeindstryd teen Herschel teruggeveg.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.