Span gevorm

Grey-kollege, die skool wat tot tot nog toe die meeste Protea-eendagspelers opgelewer het, gaan Dinsdag (05/09) die gasheer wees vir die aankondiging van die Proteas se Wêreldbekergroep.


Grey-kollege, die skool wat tot tot nog toe die meeste Protea-eendagspelers opgelewer het, gaan Dinsdag (05/09) die gasheer wees vir die aankondiging van die Proteas se Wêreldbekergroep.

Die aankondiging word Dinsdag regstreeks vanaf die skool se Eeufees-saal op die skoolkampus uitgesaai.

Die Suid-Afrikaanse spelers sal ook teenwoordig wees tydens die aanwysing van die finale groep vir vanjaar se skouspel wat van 5 Oktober tot 19 November in Indië gehou word.

Die Proteas se witbal-afrigter, Rob Walter, sal die name uitlees op die plegtigheid wat teen 10:30 sal begin, gevolg deur die formaliteite om 11:00.

Die Proteas se eendagreeks teen Australië begin twee dae daarna op die Mangaung Oval-krieketveld.

Die eerste van vyf wedstryde in die eendagreeks teen die Aussies is op 7 en 9 September in Bloemfontein.

Suid-Afrika het sedert sy terugkeer tot die internasionale arena al nege spelers gehad wat aan Grey-kollege gematrikuleer het wat die Proteas in eendagkrieket verteenwoordig het.

Drie van hulle – Kepler Wessels, Hansie Cronje en Nicky Bojé – het Suid-Afrika ook in dié kode aangevoer.

Die bouler Corrie van Zyl was ná sy speeldae die Proteas se hoofafrigter. Hy is later as hoofbestuurder van Krieket Suid-Afrika (KSA) aangestel en het ook as die direkteur van krieket waargeneem.

Nog ’n bouler, Victor Mpitsang, was onlangs nog die keurderbaas van die nasionale span.

Boeta Dippenaar, Ryan McLaren, Morné van Wyk, Rylee Rossouw is die ander spelers van Grey wat die Proteas in eendagwedstryde verteenwoordig het. McLaren werk by Grey.

Gerald Coetzee was eers op Grey, maar het toe by die St. Andrews School gematrikuleer.

Die nasionale T20-speler, Pite van Biljon, was in die vergrote Suid-Afrikaanse groep vir die twee witbalreeks teen Engeland in die 2020-’21-seisoen. Dié eendagreeks is egter weens Covid-19 gekanselleer.

Die trofee wat in Indië op die spel is, gaan Maandag (04/09) by skole in Bloemfontein ’n draai maak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.