Die eerste tennisspan van die Hoër Meisieskool Oranje sal van 11 tot 13 Mei probeer om sy hande op ’n derde nasionale trofee vir die jaar te lê.
Die 24ste Amanda Coetzer-tennistoernooi word dan by Oranje aangebied. Dit is een van die oudste skooltoernooie in die land, wat Oranje al vyf keer gewen het – ook in 2022.
Dié verdedigende kampioen is ná 14 wedstryde vanjaar onoorwonne. Dit sluit in die verowering van die titel op die Gerrie Berner-toernooi in die Paarl en dié van die National All Girls’ Festival by Eunice High School.
Die span spog sedert begin 2022 met 32 seges uit 34 wedstryde. Twee spanlede, Donna le Roux en Nestine van Rooyen, het vanjaar onderskeidelik die Suid-Afrikaanse o.19- en o.15-span gehaal. Donna is die nasionale o.16-kampioen, terwyl Nina Schimper (o.18) en Cara le Grange (o.14) altwee sesde in hul ouderdomsgroep in die nasionale junior kampioenskap is.
Amanda Coetzer, ’n oudleerling van Oranje, is Suid-Afrika se suksesvolste vrouespeler tot op hede en het in 1997 tot derde op die wêreldranglys gevorder.
Die toernooi wat na haar genoem is, begin Donderdag om 09:00 en duur tot Saterdag.
Die deelnemende skole en hul plek in verlede jaar se toernooi, is:
- Hoër Meisieskool Oranje (Bloemfontein): 1ste;) Hoër Meisieskool Bloemhof (Stellenbosch): 2de;) Paarl Girls’ High (Paarl): 3de;) Rhenish Girls’ High (Stellenbosch): 4de;) Hoërskool Waterkloof (Pretoria): 5de;) Hoërskool Menlopark (Pretoria): 6de;) Afrikaanse Hoër Meisieskool (Pretoria): 7de; en) Paarl Gimnasium (Paarl): 8ste.Die eerste keer sedert 2019 is daar weer ’n afdeling vir o.15A-spanne. Die ses skole wat hierin meeding, is: Oranje, Bloemhof, Waterkloof, Menlopark, Paarl Girls’ High en Afrikaanse Hoër Meisieskool.