Samba se nuwe gebou is op Dinsdag 2 April amptelik ingewy. Hier is Samba se uitvoerende hoof, Riana Wessels (links), en direksielede Loelie Huggett (ondervoorsitter) en Gerhard van Graan (voorsitter).


Bestuurslede van Samba klink ’n glasie op die nuwe gebou. Van links is Leoni Traut (administratiewe bestuurder), Theresa van der Merwe (finansiële bestuurder), Riana Wessels (uitvoerende hoof), Rudi Besselaar (makelaarbestuurder) en Leon de Jager (datahoof).

Die personeel van Samba sien uit na ’n opwindende toekoms met ’n splinternuwe hoofstuk in dié onderneming se bestaan.

Samba se nuwe kantoor in The Blocks (Blok C) op die hoek van Topsy Smith- en TT Cloetestraat in Langenhovenpark bied nou diens aan lede – alles onder een dak.

Die splinternuwe gebou wat Samba ontwikkel het, is Dinsdag amptelik geopen, en die personeel van die ou gebou in Charlotte Maxekestraat, waar die hoofkantoor 45 jaar lank was, asook die personeel van die kantoor in College Square, werk nou almal by die nuwe gebou.

“Dit is ’n hoogtepunt in Samba se geskiedenis,” het Gerhard van Graan, voorsitter van Samba se direksie Dinsdag op die feestelike inwyding van die kantoor gesê.

“Dit is die begin van ’n nuwe era vir Samba.”

Samba

Samba se personeel in Bloemfontein is nou almal onder een dag.

Riana Wessels, nuwe uitvoerende hoof van Samba, sê die personeel is trots op die gebou en sien daarna uit om Samba-lede hier te ontvang.

Wessels het in 2005 as invorderingsklerk by Samba begin werk en is in 2007 as kredietbestuuder en in 2013 as operasionele hoof aangestel. Sy het verlede jaar sedert 1 September as uitvoerende hoof waargeneem en beklee die pos sedert 1 Januarie.

Samba Koöperatief Beperk is op 18 Maart 1938 deur staatsamptenare begin. ’n Diens is 11 jaar lank aan hulle gelewer as ’n geslote groep, voordat die unieke en voordelige koophulpkonsep aan alle verbruikers oopgestel is om beter voordele te beding om meer omset vir Samba-leweransiers te verseker.

Met die ontstaan van Samba was daar 32 ingeskrewe lede en 14 leweransiers. Vandag spog Samba met bykans 20 000 ingeskrewe lede en meer as 26 400 plaaslike en nasionale leweransiers wat Samba-kaarte aanvaar.

Die oorspronklike kantoor is in Mei 1945, aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog, op die boonste verdieping van die Awerbuchsgebou in Fichardstraat geopen.

Samba het sy eie gebou gekoop en in April 1951 sy intrek geneem in Zastronstraat. In November 1955 is die Florencegebou in Kerkstraat gekoop. Dié gebou is later verkoop, en die Samba-gebou in Maitlandstraat (vandag Charlotte Maxeke-straat) is in 1958 betrek.

Samba se direkteure is van links, voor: Derek Foster, Gerhard van Graan en Loelie Huggett; agter: Tonie O’Reilly, Christo Coetzer en Div Lamprecht. Afwesig: Susette Brynard.Foto’s: Lientjie Mentz

Die kantoor is in 1979 na Maitlandstraat 146 geskuif, waar die hoofkantoor tot einde verlede week was.

Wessels sê met die nuwe kantoor en nuwe bestuur is dit tyd vir ’n nuwe, opwindende hoofstuk.

“Ons is ’n dinamiese span wat wil aanpas by die tye en moderne tegnologie.”

Sy sê Samba se personeel is soos een groot familie.

“Dit is ons passie dat Samba ’n vertroude naam in elke huis sal wees.

“Persoonlike diens is vir ons ’n passie. Wanneer mense die kantoor bel, praat hulle met iemand – nie bloot ’n stem in ’n oproepsentrum nie,” sê sy.

“Samba brei voortdurend uit en is baie meer as net ’n lojaliteitskaart. Samba bied soveel meer addisionele dienste en voordele aan elke Samba-lid soos versekering, finansiering, betaling van munisipale rekeninge en ’n begrafnisfonds vir die gesin.

“Samba streef daarna om van krag tot krag te gaan,” het Wessels op die eerste dag in die nuwe kantoor gesê.

Samba

Samba se spoggerige nuwe kantore ingewy.

Samba se spoggerige nuwe kantore in Langenhovenpark.Foto: Lientjie Mentz

You need to be Logged In to leave a comment.