In ’n groot aanslag deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), bygestaan deur buurtwaglede, is 106 mense Vrydag (06/05) tydens die vroeë oggendure in teenmisdaad-optrede in Langenhovenpark deursoek.
Sewe verkeersboetes is tydens die optrede, wat van 05:00 tot 08:00 geduur het, uitgeskryf.
Altesaam 38 onwettige plakkers of bosslapers wat in dié woonbuurt plak, is ondervra om moontlike misdaadbetrokkenheid vas te stel. Dit blyk hieruit van die mense is onwettige immigrante uit Lesotho.
Die optrede is uitgevoer vanweë volgehoue druk van lede van die gemeenskap, wat ’n veiliger omgewing wil verseker.
’n Woordvoerder van een van die buurtwaggroepe wat betrokke was, sê daar is ook op ’n groot hoeveelheid gevaarlike wapens, asook vuurwapens en toerusting wat vir inbrake gebruik kan word, beslag gelê.
’n Hommeltuig is gebruik om verdagtes in die donker op te spoor.
Hy sê ná die optrede Vrydag is geen misdaad die naweek aangemeld nie.
“Daar word verwag dat hierdie operasie en soortgelyke operasies in die nabye toekoms sal help om misdaad in die omgewing drasties te laat afneem,” het hy gesê.
Inwoners van Langenhovenpark, maar ook die hele Bloemfontein, word aangemoedig om alle misdade by hul naaste polisiekantoor aan te meld.
“Mense meld dikwels nie voorvalle wat hulle as klein beskou – soos ’n rekenaar wat gesteel word – by die polisie aan nie, omdat hulle dink niks sal daaraan gedoen word nie.
“Die probleem ontwikkel dat die statistieke skeefgetrek raak. Ons weet bestaande statistieke oor misdaad is onjuis omdat mense nie alles aanmeld nie. Dit bemoeilik misdaadbekamping.”
Die Bainsvlei-polisie, asook die openbareorde- en taktiesereaksie-eenheid en die honde-eenheid, het saamgespan.
Sowat 40 polisiemaglede, ondersteun deur buurtwaglede, het aan die optrede deelgeneem.
Volgens die jongste statistieke van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in die Bainsvlei-gebied is Langenhovenpark (32%) een van die brandpunte.
Daarnaas is Groenvlei (16%), Krigelaan (12%), Mooiwater, Hartebeesfontein en Spitskop (elk met 8%) ’n bron van kommer.
Die meeste brandpunte in Langenhovenpark is in Jan Spiesstraat, Johan van der Rietstraat en Swartwitpensstraat in Woodland Hills.
Die meeste misdade vind by huise plaas (38%), met meenthuise (25%) in die tweede plek.
Die meeste misdade vind van 09:00 tot 11:59 en weer van 15:00 tot 17:59 (33% elk) plaas.
Bestaande statistieke oor misdaad is onjuis omdat mense nie alles aanmeld nie.