Braam van Zyl (afdelingshoof van die Mangaung-brandweer en reddingsdienste) en Patrick Senti (assistent-afdelingshoof: openbare opvoedkundige offisier).


Ten minste een keer ’n maand brand ’n grasdaklapa in Bloemfontein.

Dié brande ontstaan 90% van die tyd kort nadat inwoners vleisbraai.

So sê Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-brandweer en reddingsdienste.

“In 2021 het 14 lapas in die stad gebrand,” sê hy.

“Baie kan gedoen word om dié brande te verminder. Mense moet waaksaam wees en seker maak dat geen vonke ná ’n vleisbraaiery ’n brand kan veroorsaak nie.”

Patrick Senti, assistent-afdelingshoof: openbare opvoedkundige offisier sê mense moet die regte toerusting gebruik wanneer ’n braaier in ’n grasdaklapa geïnstalleer word.

“Die belangrikste is dat braaiers geïnstalleer word deur mense wat daarvoor geakkrediteer is. Die braai-gedeelte moet behoorlik geïsoleer wees en daar moet ’n behoorlike vonkvanger geïnstalleer word. Die skoorsteen moet ten minste 1,8 m bokant die grasdak uitsteek.”

Hy sê elektriese bedrading moet deur ’n gekwalifiseerde elektrisiën gedoen word.

“Verder moet die lapa ’n weerligafleier hê. Daar moet geen bosse, gras, riete of ander plantoorblyfsels naby die lapa lê nie.”

Dit is belangrik dat braai-skoorstene elke kwartaal inspekteer word.

“Hou ’n brandblusser in die huis binne bereik van die grasdaklapa.”

Van Zyl sê die winter lê voor en met al die veldgras wat welig gegroei het tydens die goeie reënseisoen, verwag hulle baie veldbrande wanneer dit droog raak in die winter. Die meeste van die brandweerspan in Bloemfontein se tyd word opgeneem deur veldbrande met 1 119 wat verlede jaar geblus is.

Die Mangaung-brandweer met sy verskillende takke, het verlede jaar 1 925 oproepe ontvang. Hiervan was 170 huisbrande, 138 plakkershuise wat gebrand het waarin 23 mense in formele en informele huise weens brande gesterf het. Ook 50 geboue wat winkels, skole, hospitale en kantore insluit, wat gebrand het. In dié tydperk het 45 voertuie gebrand. Dit sluit motors, busse, vragmotors en ’n trein in.

Die spanne het 178 reddingsoperasies uitgevoer waarvan die meeste mense weens motorongelukke met behulp van die meganiese kake bevry moes word. Daar is ook 211 dienste tydens vloede, die saag van bome in die pad en ander dienste deur die brandweerspanne verrig.

Die sentrale brandweerstasie in Pres. Brandstraat het Desember ’n nuwe brandweerwa ontvang wat 44 m die lug in op kan gaan en wat baie gaan help as hoë geboue brand.

Die belangrikste is dat braaiers geïnstalleer word deur mense wat daarvoor geakkrediteer is. – Patrick Senti

You need to be Logged In to leave a comment.