Ná die wegholoorwinning wat die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Kovsie-netbalspan op Maandag 23 September oor die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) behaal het, het hy moeiteloos na die halfeindstryd van die Varsity-beker deurgedring.
Kovsies, wat nog net een wedstryd in die reeks verloor het, het ’n reuse-telling van 112 – 9 in die Callie Human-sentrum in Bloemfontein teen TUT opgestel.
Rolene Streutker is as speler van die wedstryd aangewys.
Die span, onder afrigting van Burta de Kock, is nou saam met die spanne van die Noordwes-Universiteit (NWU), die Universiteit van Johannesburg (UJ) en die Universiteit van Pretoria (Tuks) in die halfeindstryd.
Dié wedstryde vind op Maandag 30 September, weer op eie bodem, in die Callie Human-sentrum plaas, wat beslis weer aan die plaaslike span tuisbodem-ondersteuning sal bied.
Die UJ speel om 17:00 teen die NWU, en die UP-Tuks speel om 19:00 teen Kovsies. Die wedstryde word weer op SuperSport uitgesaai.
Die eindstryd van die reeks vind op Maandag 7 Oktober om 19:00 plaas.
Kovsies is ná Maandag se oorwinning bo-aan die punteleer, met 25 punte teenoor die UJ se 24 en NWU se 20 punte.
Benewens die hope talent onder die Kovsie-spelers en De Kock se ervare hand, het dié span boonop die voordeel van die Protea-netbalspelers Karla Pretorius en Khanyisa Chawane as hulp-afrigters.
Kovsies was al vier keer die kampioen in dié reeks en sal hard werk vir nog ’n oorwinning.