Maak solank ’n wenspan bymekaar vir ’n Amazing Race deur Tierpoort, suid van Bloemfontein.
Corlia Karsten van Mooihawe het vorendag gekom met die idee van só ’n skattejag om geld vir dié sentrum vir bejaardes in te samel.
Colin Vorster van Tierpoort, wat in die verlede al opwindende skattejagte in die omgewing gereël het, is nou kliphard aan die beplan.
Corlia sê daar is baie druk op bejaardes, en met hierdie projek wil sy ’n effense uitkoms bring.
“Bejaardes sukkel om met hul pensioen uit te kom en baie van hulle kry swaar,” sê Corlia.
“Ons wil graag met hierdie geldinsameling keer dat ons die huur by Mooihawe volgende jaar moet verhoog.”
Sy nooi ondernemings, gesinne, kerke, vriendekringe en klubs uit om ’n span van vier saam te stel en die skatte en interessanthede van Tierpoort te verken.
Spanlede sal aan lekker aktiwiteite kan deelneem en meer leer oor die Anglo-Boereoorlog en ander dinge van belang in die omgewing.
“Dit gaan nie ’n ware resies wees nie; eerder ’n skattejag waarin die span met die meeste punte, wen. Die motors waarin mense meeding, gaan op die grondpaaie tussen Onze Rust en die eindpunt by De Oude Kraal beweeg,” sê Colin.
Die Amazing Race in samewerking met Bloemnuus, Radio Rosestad en Bloemskou vind op Saterdag 9 September plaas.
Die beginpunt is by die Leeuwberg-gasteplaas by Onze Rust, waar spanne van 08:30 af in groepe gaan wegspring.
Wonderlike pryse is op die spel vir die span met die meeste korrekte antwoorde, asook die span met die meeste spangees.
Registrasie kos R250 per spanlid (vier spanlede per voertuig), wat ook ’n ligte middagete by De Oude Kraal dek.
Registreer by Ria Bates by 083-242-0576. ’n Beperkte aantal plekke vir deelname is beskikbaar, so skryf spanne so vinnig moontlik in om teleurstelling te voorkom.