Spanne, kom wys hoe julle rol

Die balle gaan rol wanneer spanne van oor Bloemfontein heen op Vrydag 6 September aan BloemNuus se rolbaldag ten bate van Engo deelneem.


Die balle gaan rol wanneer spanne van oor Bloemfontein heen op Vrydag 6 September aan BloemNuus se rolbaldag ten bate van Engo deelneem.

Spanne van vier spelers elk kan hulle nou inskryf vir ’n dag van pret by die Bloemfontein-rolbalklub (BBC) in Unielaan.

Die kompetisie is vir enigeen, hetsy ’n ervare rolbalspeler of ’n spanlid wat vir die eerste keer hul hand aan dié sportsoort waag.

Alles is vir ’n goeie saak.

rolbal

Gereed om balle te rol is van links Jeannine van Zyl (hoofbestuurder van Sentraal24), Anché de Bruin (verkoopsverteenwoordiger van BloemNuus en BloemExpress), Debbie Conradie (bemarking vir Engo) en De Wet Claassens (hoof- uitvoerende direkteur van Engo). Foto: Lientjie Mentz

Met Kom rol vir Engo gaan dit nie net oor wen nie; daar is onder meer ook ’n prys vir die besgeklede span.

BloemNuus bied die geleentheid vanjaar ’n tweede keer aan.

Inskryfgeld is R1 200 per span van vier – wat vir elkeen van die spelers die dag se spel, ’n ete en ’n kaartjie vir die Projek van Hoop insluit.

Engo se Projek van Hoop bied aan kaartjiehouers ’n geleentheid in die gelukstrekking in Desember waarin ’n splinternuwe Renault Kwid van R196 999 op die spel is.

Spelers en toeskouers sal ook op die Kom rol vir Engo -geleentheid nog kaartjies vir die Projek van Hoop kan koop.

Lotingskaartjies vir geskenkpakke sal ook verkoop word.

Hierdie geld, asook die grootste deel van die inskryfgeld, sal aangewend word vir Engo se projekte.

Engo se Y-koffie sal ook op dié dag te koop wees.

Ondernemings wat ’n span vir die kompetisie inskryf, sal elk ’n bemarkingsveer langs die baan kan vertoon.

Balle is by die klub beskikbaar vir diegene wat nie hul eie balle het nie of nog nooit gespeel het nie.

Deelnemers kan van 12:30 af by die klub registreer.

Wedstryde begin om 13:00.

Skryf in deur Gerrie de Bruin by 064-525-9955 of Anché de Bruin by 083-560-9184 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.