Kom wys jou slag met potjiekos op vanjaar se Pick-a-Potjie-kompetisie by die Dr. C.F. Visser-skool op Saterdag 20 Mei. Foto: Toorie Smith


Die voorste potjiekosmakers in die stad moet hul beste resepte uittoets, want die uitdaging is groot om die beste potjiekos voor te sit op Pick n Pay Reizis Square en die Dr. C.F. Visser-skool se #Pick-a-Potjie-kompetisie by dié skool in Estoire op 20 Mei.

Die sluitingsdatum vir spanne om hulle in te skryf, is Maandag (15/05). As jy en jou span die kans wil staan om pryse van R3 500 vir die beste pot te wen, dan moet jy wikkel.

Inskrywing kos R100 per span (maksimum vier lede).

Elke span moet sy eie bestanddele voorsien, waarvan 80% by Pick n Pay Reizis Square gekoop moet word.

Die potjiekos word in ’n nr. 3-potjie gemaak. Uit elke pot moet 11 porsies kos geskep word – tien porsies wat ten bate van die skool verkoop gaan word en een porsie vir die beoordelaars.

Elke span moet ook sy eie rys of ander stysel voorsien.

Die potjies word om 12:30 beoordeel, en dan sal die potjiekos ook vir die publiek te koop wees teen R40 per porsie.

Gaste sal boonop kan stem vir die beste stalletjie en die stalletjie met die meeste gees.

Benewens die pret vir potjiekos­makers, gaan daar baie te doen wees vir die jongspan.

Een van die hoogtepunte is die Braaibroodjie-kompetisie, waarin kinders braaibroodjies “bou” en dit onder toesig oor die kole braai.

Al die bestanddele sal beskikbaar wees en inskrywing kos R10 per broodjie. Die beste broodjies sal pryse wen.

Daar gaan ’n pretpark wees waar kinders heeldag teen R50 kan baljaar.

Kaartjies kan teen R10 gekoop word om aan die Beesdropkompetisie deel te neem.

Ander aktiwiteite sluit in die Mnr. en Mej. Vissie-kompetisie.

Om die honger kolletjie te vul totdat die potjiekos gaar is, is daar stalletjies met peuselkos, asook soetgoed, koffie en koeldrank.

Bloemfonteinse sanger William Wolf is die gaskunstenaar.

Toegang na die Pick-a-Potjie-dag is gratis. Die hekke open om 07:00, en die geleentheid duur tot 15:00

Pick-a-Potjie word aangebied in samewerking met Bloemnuusen Radio Rosestad. ’n Span van Bloemnuus, een van Radio Rosestad en een van Pick n Pay Reizis Square gaan elk ’n reuse-pot maak waarvan porsies ook te koop gaan wees.

Inskryfvorms is beskikbaar by Pick n Pay Reizis Square of deur ’n e-pos na drcfvisser@gmail.co.za te stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.