Tyd is min om in te skryf vir BloemNuus se rolbaldag ten bate van Engo wat Vrydag 6 September by die Bloemfontein-rolbalklub (BBC) in Unielaan gehou word.
Spanne van vier het tyd tot môre (30 Augustus) om hulle te registreer en die R1 200 inskrywingsfooi te betaal.
Die geld sluit die dag se spel, ’n ete asook ’n kaartjie vir Engo se Projek van Hoop in.
Almal wat deelneem aan Engo se Projek van Hoop, is deel van die gelukstrekking waarvan een gelukkige wenner in Desember ’n splinternuwe Renault Kwid kan wen.
Deelnemers en toeskouers sal op die dag nog kaartjies vir die Projek van Hoop kan koop.
Die rolbaldag is vir almal, ongeag of lede van die span al voorheen rolbal gespeel het of nie. Balle is by die klub beskikbaar.
Deelnemers kan hulle op 6 September van 12:30 af registreer, en die wedstryde begin om 13:00.
Rig navrae oor inskrywings aan Gerrie de Bruin by 064-525-9955 of Anché de Bruin by 083-560-9184.