Spanne spook sake om die kospotte uit

Kom neem deel aan Pick-a-potjie ten bate van die Dr. CF Visser-skool in Estoire op 4 Junie.


Kom neem deel aan Pick-a-potjie ten bate van die Dr. CF Visser-skool in Estoire op 4 Junie.

Die kompetisie, ten bate van kinders by dié skool, word deur Pick n Pay Reizis Square aangebied op die sportterrein en vermaak word deur die Karoo-sanger Frans van Zyl verskaf.

“Dit gaan ’n lekker dag vir die hele gesin wees,” sê John Pentz, bestuurder van Pick n Pay Reizis Square.

“Pick n Pay gaan self ’n reuse-pot aanmekaarslaan en Radio Rosestad gaan die ander pot maak. Verder nooi ons spanne uit om aan dié kompetisie te kom deelneem en besoekers om te kom proe wie se pot is tops.”

Spanne van nie meer as vier mense moet teen 20 Mei inskryf vir die kompetisie. Inskrywings kos R200 per span.

Die meeste van die bestanddele wat vir die pot gebruik word, moet by Pick n Pay Reizis gekoop word en kasregisterstrokies moet op die dag van die kompetisie met beoordeling beskikbaar wees.

Die publiek sal potjiekos teen R50 per bord of teen R10 per proe-happie kan koop. As jy dus aan ’n verskeidenheid potjies wil proe, kan jy ’n paar proe-kaatjies koop.

Die kompetisie begin om 07:00 vir die kokke en die beoordeling vind om 12:00 plaas, waarna die publiek lekker gaan smul.

Pryse is op die spel soos die span wat die oulikste aantrek en die span wat die meeste geesdrif toon. Die wenspan sal ’n R3 000-koopbewys van Pick n pay ontvang. Inskryfvorms is by Pick n Pay Reizis Square se inligtingstoonbank beskikbaar.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.