Spanwerk handelaar se sleutel tot sukses

Danksy goeie spanwerk kan Human Auto Bloemfontein vanjaar met Ford se top-eerbewys spog.


Die bestuurspan by Human Auto is van links Wynand Swanepoel (vlootbestuurder), Hannes Wessels (verkoopsbestuurder van gebruikte voertuie), Pine Pienaar (groepdirekteur), Gert Jordaan (finansiële bestuurder), Gerhard Grové (onderdelebestuurder), Jeanette Engelbrecht (menslike hulpbronbestuurder), Okkie Louw (werkwinkelbestuurder), Theuns Pieters (verkoopsbestuurder van nuwe voertuie), Nandor Janse van Rensburg (bestuurder van naverkopediens, voor) en Des Williams (handelaarshoof). Foto: Lientjie Mentz

Danksy goeie spanwerk kan Human Auto Bloemfontein vanjaar met Ford se top-eerbewys spog.

Dié tak is as Ford se nasionale handelaar van die jaar vir 2021 aangewys, en die Human Auto-groep is die derde jaar agtereenvolgens as beste handelaarsgroep van die jaar aangewys.

Des Williams, handelaarshoof van Human Auto in Bloemfontein, sê die personeel werk as ’n span om die groep bo ander handelaars oor die land heen te laat uitblink.

Die Human Auto-groep bestaan uit takke in Bloemfontein, Ficksburg, Welkom en Kimberley.

Die eerbewyse is op 22 Maart met ’n aanlyn geleentheid aan handelaars oor die land heen toegeken.

Die groep spog nie net met Ford se top-eerbewys nie – verskeie personeel­lede het ook pryse verwerf.

Williams het namens Human Auto Bloemfontein die prys as handelaar van die jaar in afdeling A ontvang.

In dié afdeling word met al die groot handelaars oor die land heen meegeding.

In afdeling C was Human Auto Welkom die naaswenner van die handelaar van die jaar-eerbewys. Pierre Beukes het namens die tak dié prys ontvang.

Theuns Pieters van Human Auto Bloemfontein was die naaswenner in afdeling A se verkope-kompetisie. In dié kompetisie is die handelaar se verkope, bemarking en verkoopprestasie in ag geneem, asook die mening van kopers.

In afdeling A is Gerhard Grové as wenner in die onderdele- en diens-afdeling aangewys. Hy werk al 36 jaar by Human Auto Bloemfontein.

Pierre Visser van Human Auto Welkom is die algehele wenner in afdeling C se onderdele- en diens-afdeling.

In afdeling A is Human Auto Bloemfontein ook vir sy verkoop van Ford Protect-produkte vereer.

Die Human Auto-groep, wat ook in 2019 en 2020 as die handelaarsgroep van die jaar aangewys is, het in die afgelope vyf jaar ook talle ander eerbewyse ontvang.

Williams sê dit is wonderlik dat die eienaar, Jacques Strydom, die bestuur vrye teuels gee om hul beste diens aan klante te bied.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.