Die Fichardtpark-woonbuurtvereniging (FWA) in Bloemfontein het pas onderhandelinge met vyf veiligheidsondernemings afgehandel om die komende jaar se diensvlakooreenkomste te bevestig.
Jacques Meiring, bestuurder van die FWA, sê dié is ‘n “oop” woonbuurt met 2 791 huishoudings.

“Fichardtpark het verskeie ingange, en die woonbuurt is maklik toeganklik vir almal.”
Om hierdie rede moet baie gedoen word om misdaad te bekamp en die woonbuurt veilig te maak vir inwoners.
Een van die suksesvolle strategieë is die FWA se 100%-misdaadvryplan.
“Die FWA-bestuur het sedert Desember 2014 ‘n plan saam met verskeie betrokkenes ontwikkel en in werking gestel met die oogmerk om die woonbuurt 100%-misdaadvry te maak.
“Die doel van hierdie plan is om alle vlakke van misdaad te bekamp. Dit word moontlik gemaak danksy goeie kommunikasie, met behulp van ‘n radionetwerk wat 24 uur ‘n dag, sewe dae van die week, aktief is.”
Meiring sê om die plan te verwesenlik het die FWA vyf sekuriteitsbestuurders aangestel om die span te lei.
“Verder is diensvlakooreenkomste met vyf veiligheidsondernemings in Bloemfontein gesluit om meer gefokusde optrede te verseker. Die patrollies van die gemeenskapspolisiëringsforums bring verder diepte in die pogings tot misdaadvoorkoming.
“Ons skat ook nie die oë en ore van FWA -lede en FICH-Net radiolede gering nie.”
Al die misdaadstatistieke wat ingesamel word, word in ‘n databasis vervat, waaruit neigings bepaal word. Die neigings rig dan patrollies in die woonbuurt.
Verskeie sake is al opgelos danksy heirdie strategie van die FWA.
You must be logged in to post a comment.