Lientjie Mentz
‘n Aangrypende teaterstuk is van vandag af op die planke in die André Huguenet-teater in die stad.
Die sentrale tema is die invloed wat onderwysers op ons lewens het. Dink net aan hoe dit sal wees om iemand te verloor wat ‘n veilige omgewing vir jou verskaf het.

Om verskeie redes sal die toneelstuk Wanneer ‘n groot boom val! ingeprent bly in die teatergeheue.
Slegs twee dae voor die eerste repetisie van die toneelstuk is die dramaturg Athol Fugard op 8 Maart oorlede. Hy was beslis een van die grootste bome tot nog toe in Suid-Afrika se teaterwêreld.
Twee dae voor sy dood is die be-kende aktrise Crystal-Donna Roberts op 40 jarige ouderdom ook oorlede.
Jefferson Dirks-Korkee wat die drama geskryf het, sê Roberts sou die vrouehoofrol in die stuk vertolk het, maar weens haar kankerdiagnose moes ‘n plaasvervanger gevind word.
Wanneer ‘n groot boom val! is nie ‘n donker stuk nie.
“Dit is ‘n liefdesbrief aan my dramadosente en -onderwysers oor die jare,” vertel Korkee wat ook die regisseur was.
“Ek is nie seker of jy my onthou nie, maar ek was in jou klas.
“Reg voor, in die middel, ‘n hele paar jaar gelede, al sou jy my dalk nie herken nie; want jy moes my baie rondskuif, en soms selfs uit die vertrek uit. Hierdie is my liefdesbrief aan my onderwysers.”
Korkee en Karabelo Plaatjie, die assistent-regisseur, was tydgenote in hul dramakursus aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die bekende akteur Gerben Kamper was een van hul dosente.
Nou is Kamper een van vier akteurs in die toneelstuk en hulle in die vername regiestoel.
Kamper, Maria de Koker en Moses Lechuti is die “kinders” in juffrou September se dramaklas. In die werklike lewe is die drie akteurs bejaard, maar in die toneelstuk beleef hulle hul vroeë treë op die verhoog deur terugflitse in juffrou September se dramaklas.
Die jongste van die viertal akteurs is Amíra-Xandria van Biljon, wat die drama-onderwyseres September vertolk.
In haar klaskamer voel die “kinders” veilig. Sy aanvaar hulle sonder oordeel en luister met aandag wanneer hulle oor hul drome, begeertes en die hartseeromstandighede tuis praat. Tussendeur lê sy die fondament vir ‘n loopbaan in die teater – ‘n toekoms waarna hulle streef, maar nêrens mag laat blyk nie.
“Ek hoop dat hierdie vertoning ons aanspoor om na te dink, te heroorweeg en weer met gekoesterde herinneringe te koppel, sodat ons genesing in ons verlede kan vind,” sê Korkee.
“Ek wens dat waar jy ook al is, jy my kan sien en trots kan voel. Ek vra om verskoning vir my vorige gedrag, maar ek is dankbaar vir jou onwrikbare ondersteuning.”
■ Wanneer ‘n groot boom val! is van vanaand tot Saterdag 29 Maart telkens om 18:00 in die André Huenet-teater te sien.
Kaartjies kos R100 en is beskikbaar op webtickets.co.za.
You must be logged in to post a comment.