’n Bloemfonteiner het op die Suid-Afrikaanse Golden Eagles-pluimbalkampioenskapsbyeenkoms vir spelers ouer as 65 jaar geseëvier.
Ina Bezuidenhout het die vroue-enkelspeltitel verower deur Avril Boonzaaier van die Westelike Provinsie (WP) in die eindstryd met 21 – 15 en 21 – 19 te klop.
Dié toernooi is van 4 tot 9 Junie in die Fichardtpark-sportkompleks in Bloemfontein aangebied.
Bezuidenhout het in haar aanloop na die titel nie een set afgestaan nie. Veral haar agterbaan-krag en beweeglikheid het beïndruk en sy was beslis die fiksste speler op die toernooi.
Dit is die derde keer dat sy die titel wen, en na verwagting kan sy nog meer titels in die toekoms verower.
Bezuidenhout het al diep spore in Vrystaat-pluimbal getrap. Haar grootste bydrae was as onderwyser by die Hoërskool Fichardtpark, waar sy Olimpiese spelers soos Wiaan en Anneri Viljoen afgerig het.
Fichardtpark se meisiespluimbalspan was ook die Afrika-skolekampioene onder haar afrigting.
Die Vrystaatspan het goed op die Golden Eagles-toernooi vertoon en was tweede in die spankompetisie, met WP in die eerste plek – dit was egter net-net, met die Vrystaat en WP wat gelyk met 3 – 3 was. WP het wel meer wedstryde teen ander provinsies gewen en het op ’n tegniese punt die titel voor die Vrystaat weggeraap.
Die Vrystaatspan is vasbeslote om volgende jaar die bordjies te verhang en die spantitel na Bloemfontein te bring.
Twee Vrystaatse senior spelers, Caden Kakora en Ryan Swart, sowel as Kovsies se sportman van die jaar vir 2022, Robert Summers, gaan van 9 tot 14 Julie aan die University Sports South Africa se pluimbalkampioenskapsbyeenkoms in Pretoria deelneem.
Kakora was die enkelspelwenner van die Vrystaatse Senior Geslote Kampioenskap, en saam met Swart was hulle die beste dubbelspelspelers op 5 Junie in Bloemfontein. Hier het hulle die ervare Chris en Roelof Dednam geklop om uiteindelik die titel te verower.
Kakora gaan in Julie saam met die Suid-Afrikaanse span aan die Mauritius- Internasionale Toernooi en die St. Denis Reunion Ope deelneem.


