Slegs 38 pluimbalspelers kwalifiseer vir 2024 se Olimpiese Spele en ’n Vrystaatse speler gee nou haar alles om een van die twee plekke vir Afrika-spelers in die groep in te neem.
Nita Scholtz Albertse het die afgelope maand drie agtereenvolgende toernooie gespeel in Kameroen (22 tot 25 Augustus), Nigerië (29 Augustus tot 3 September) en Benin (6 tot 10 September), waarvan sy laasgenoemde gewen het.
Die kwalifiseringstydperk vir die spele het in Mei 2023 begin en sluit einde April 2024. Die spelers met die meeste ranglyspunte, met hul beste tien toernooie in ag geneem, kwalifiseer.
Scholtz is nou 90ste in die wêreld omdat sy heelwat minder toernooie gespeel het as die ander spelers wat vir die Olimpiese Spele wil kwalifiseer.
Sy behoort nog op die ranglys te klim, met nog sewe toernooie wat sy beplan om voor die einde van die jaar te speel.
Spelers van Europa, Noord-Afrika en die Ooste het ’n voordeel, want die meeste toernooie word in Europa en die Ooste gespeel. Suid-Afrikaanse spelers probeer dus om toernooie wat relatief naby aan mekaar is, in opeenvolgende weke, te speel.
Toernooie begin gewoonlik op Dinsdag of Woensdag en strek dan tot Sondag, wanneer die eindstryde gespeel word. Spelers gebruik die Maandag om van die een toernooi na ’n ander te vlieg.
In die drie toernooie waarin Scholtz die afgelope maand gespeel het, het sy elke week verbeter, en in die mees onlangse toernooi het sy die titel gewen deur baie sterk wilskrag en dissipline te toon. Sy het in die eindstryd Nour Youssri van Egipte met 21-17, 20-20 en 21-19 geklop, maar was in die uiteindelike stel met 19-16 agter voordat sy die veggees getoon het om haar die titel te besorg. Sy het in die halfeindstryd ook diep gedelf om Fadilah Rafi van Uganda met 22-20, 17-21 en 21-12 te troef.
Hierdie oorwinning moet in konteks geplaas word: Sy is nie oefengeleenthede gegun voor die toernooi nie. Sy het dit oorkom deur op die hotel waar sy tuisgegaan het se dak haar voetwerk te oefen.
Sy was alleen in Benin vir die hele toernooi. Ander lande se spelers het afrigters, bestuurders en ander spanlede om hulle te help, maar Scholtz moes die toernooi alleen aandurf.
In Kameroen en Nigerië het sy darem Suid-Afrikaanse spanmaats gehad om haar te help, hoewel Pluimbal Suid Afrika (PSA) nie ’n afrigter vrygestel het om die spelers te vergesel nie.
In Kameroen en Nigerië het Scholtz goeie spel gelewer en selfs met Italië se Judith Mair afgereken. Scholtz het ’n jaar gelede teen Mair verloor, maar met 21-17, 22-20 in Nigerië gewys sy groei sterk.
Sy het ook die wêreld se nr. 42-speler van Amerika, Lauren Lam, laat sweet met ’n uithaler-vertoning in Nigerië en ’n ruk voorgeloop, maar uiteindelik met 21-17 verloor.