’n Voormalige ExpressLet’s Play-sportster van die maand vir Augustus (2019), wat gekies is vir ’n Suid-Afrikaanse rugbyspan wat in Desember in Ierland gaan toer, se droom is om in Colesberg ’n sport-akademie te begin.
Justin Pieterse is gekies vir die nasionale span nadat hy ingesluit is in die 0.19-plattelandspan wat van 26 Junie tot 1 Julie aan die VKB-rugbyweek in Reitz deelgeneem het.
Daar is hy as die beste heelagter van die toernooi aangewys.
Justin is ’n leerling aan die Dr. Böhmer-vaardigheidskool, maar speel rugby vir die Hoërskool Jim Fouché.
Die toer na Ierland, van 7 tot 16 Desember, is nie net bedoel om rugbyspelers daar ondervinding in dié sportsoort te gee nie, maar ook om hulle van geleenthede in Ierland bewus te maak.
Justin blink al van kleins af in rugby uit. Hy is oorspronklik van Colesberg, waar hy vir die o.7-span rugby gespeel het. Later het hy vir die Hoërskool Colesberg rugby gespeel.
Hy is as o.15-speler in die Pixley ka Seme-streekrugbyspan ingesluit. In 2018 het hy verskillende eerbewyse by die Hoërskool Colesberg ontvang, onder meer as sportster van die jaar. Hy het in 2019 na Bloemfontein gekom.
Justin se pa, Pieter, is opgewonde oor sy seun se insluiting in die span wat oorsee gaan toer.
“Justin het regtig baie talent,” sê Pieter.
“Ons is trots op hom en hoop regtig ons kan die R40 000 insamel wat nodig is sodat hy op die toer kan gaan.”
Pieter sê deurdat Justin vir die span gekies is en hopelik deur internasionale keurders raakgesien kan word, kan dit die begin wees van sy droom om kinders in Colesberg met sport te help.
“Ons glo Justin staan ’n goeie kans om raakgesien te word,” sê hy.
Justin neem ook sedert Woensdag (20/07) aan die Vrystaatse o.19-proewe deel.