Spelers eindig 2023 op hoë noot

Die 20-jarige Kovsie Caden Kakora het onlangs in Kaapstad sy eerste senior internasionale pluimbaltitel verower.


Die 20-jarige Kovsie Caden Kakora het onlangs in Kaapstad sy eerste senior internasionale pluimbaltitel verower.

Die Suid-Afrikaanse internasionale pluimbalkampioenskap is van 30 November tot 3 Desember in Kaapstad beslis. Dit was die laaste toernooi op ’n lang toer vir verskeie Vrystaatse spelers wat draaie gemaak het in Egipte, Algerië, Uganda, Zambië en Botswana.

Nita Scholtz-Albertse en Kakora van die Vrystaat het aan die meeste van die toernooie deelgeneem.

Die Vrystaat se top-pluimbalspelers het as ’n groep gaan deelneem aan die toernooi in Kaapstad vir waardevolle punte op die wêreldranglys en ondervinding.

Hulle kon hulle ook meet aan die meer as 20 ander lande se spelers wat deelgeneem het.

Die Vrystaters het almal goed gedoen en almal medaljes gewen: Ryan Swart (brons), Scholtz-Albertse (silwer en brons), Robert Summers (silwer), Megan de Beer (silwer) en Elme de Villiers – wat onlangs van Duitsland teruggekeer het en nou weer in Bloemfontein oefen – het baie goed vertoon op haar eerste toernooi terug in Suid-Afrika.

Kakora het saam met sy mansdubbelspelmaat, Robert White, van Gauteng, dié afdeling gewen.

Kakora het al op skool verskeie internasionale junior titels gewen, maar die senior afdeling het hom nie afgeskrik nie en hierdie eerste internasionale senior titel is goud werd in terme van selfvertroue en groei.

Hy het ook ’n bronsmedalje gewen en is Suid-Afrika se hoogste mansenkelspeler op die wêreldranglys.

Kakora en die ander Vrystaters neem nou ’n kort ruskans voordat hulle in alle erns begin voorberei vir ’n baie belangrike 2024 wat die Afrika-kampioenskappe in Februarie in Egipte en die Afrika-spele in Maart in Ghana insluit.

Dié twee toernooie is vir die spelers van kardinale belang om vir die Olimpiese Spele in Parys te kwalifiseer.

You need to be Logged In to leave a comment.