Die afgelope tyd was daar verskeie artikels in die media oor wie as die beste Suid-Afrikaanse rugby- en krieketspelers beskou word.
Ander sportsoorte het moontlik ook sulke debatte, en dié soort gesprek onder pluimbal-entoesiaste is geen uitsondering nie.
Chris Dednam, ’n senior speler van Bloemfontein, het heel moontlik met die verwerwing van sy 27ste Suid-Afrikaanse titel die debat in sy guns geswaai. Hy het dié prestasie behaal op die Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms wat van 30 Oktober tot 3 November in Benoni gespeel is.
Wie die beste van alle tye is, is ’n redenasie wat baie elemente bevat, en dit hang baie af waaraan jy die meeste waarde heg.
In pluimbal is dit nog meer kompleks omdat die enkelspel beslis die belangrikste titel is, maar in kontras met ander raketsportsoorte is die dubbelspel en gemengde dissiplines slegs ’n kortkop agter.
Wêreldranglysplekke is ook ’n belangrike oorweging, sowel as internasionale titels – en dan ook in watter era iemand presteer het.
Met Suid-Afrika se pluimbal-geskiedenis en -karater het die Suid-Afrikaanse titel ’n belangrike maatstaf geword.
Dednam het nou verby die rekord van die legendariese Alan Phillips van die Kaap se 26 titels geskuif. Phillips het in die 1980’s en begin 1990’s pluimbal in Suid-Afrika oorheers.
Chris het saam met sy broer, Roelof, die Suid-Afrikaanse kampioenskap ’n 14de keer verower om Gauteng se Robert White en Cameron Coetzer van Oos-Londen in die eindstryd met 14 – 21, 21 – 15 en 21 – 15 te troef.
Die broers se 14 titels saam is ook ’n rekord.
Chris het met ander spanmaats nog drie titels gewen om altesaam 17 keer sy naam op die Suid-Afrikaanse dubbelspelbeker te laat graveer.
Hy het ook vyf keer die Suid-Afrikaanse enkelspeltitels (die naasmeeste tot nog toe), asook vyf gemengdespeltitels, gewen in sy jong dae, maar dit is in die dubbelspel dat hy eenvoudig geen gelyke het nie.
Moontlik kan ander spelers daarop aanspraak maak dat hulle die beste enkelspel- of gemengdespel- spelers is wat Suid-Afrika al opgelewer het, maar Chris staan alleen as dit by die dubbelspel kom.
Hy het sy eerste Suid-Afrikaanse dubbelspeltitel as 18 jarige gewen en is nou 40 jaar oud met sy mees onlangse titel. Dit is juis sy langdurige loopbaan wat so merkwaardig is.
In pluimbal is enkelspel eintlik ’n jong man se spel omdat die fiksheid-element so belangrik is, maar dubbelspel word meer as takties gesien – met die paar wat die wedstryd so kan draai om so vinnig as moontlik die aanval te bewerkstellig om groot mokerhoue te gebruik.
Chris en Roelof het deur die jare meesters daarin geword om die baanoppervlak só te manupileer dat hulle hul aanvallende spel gebruik om die houe-wisseling te beperk en sodoende jonger spelers fiksheid te negeer.
Die Dednam-broers moker die pluim miskien nie meer so hard soos in hulle jong dae nie, maar daar is nog baie angel in hulle mokerhoue.
Mansdubbelspel is ’n spel van aanval en verdediging, en die Dednam-broers het geen gelyke om verdediging in aanval te omskep nie en dan self op die aanval hul teenstander te verniel.
Chris het egter nog ’n ent om te gaan om die meeste Suid-Afrikaanse titels van almal te bereik, want Gussie Phillips het die rekord in die vroue-afdeling met die 33 Suid-Afrikaanse titels in haar loopbaan verower het.
Vrystaat se Nita Scholtz-Albertse lyk egter op die duur na ’n goeie aanspraakmaker, want sy is 24 en het reeds tien Suid-Afrikaanse titels – en om by 34 uit te kom in haar loopbaan, is nie onmoontlik nie.
Die Vrystaat se twee jong sterre Caden Kakora en Robert Summers lek hul lippe af om in hul loopbaan ook Chris se rekord te jaag.
Hulle het albei ook reeds verskeie Suid-Afrikaanse titels, en tyd is aan hulle kant.