Nina Schimper (foto) en Donna le Roux was die beste dubbelspaar. Foto’s: Verskaf


Die Hoër Meisieskool Oranje se eerste tennisspan het die eerste keer in die 25 jaar van die Itec Amanda Coetzer-tennistoernooi dit ’n derde keer agtereenvolgens gewen.

Dié toernooi het die afgelope naweek in Bloemfontein plaasgevind, en die spelers het diep gedelf om seker te maak hulle herskryf die rekordboeke.

Die tennisspan van die Hoër Meisieskool Oranje het die Amanda Coetzer-toernooi ‘n derde jaar agtereenvolgens gewen. Van links is Donna le Roux, Ameli Bezuidenhout, Mia Schimper, MC Olivier (afrigter), Nina Schimper (kaptein), Cara le Grange, Nestine van Rooyen en Ansoné Theron. Foto: Verskaf

Die prestasie is so uitsonderlik dat Amanda Coetzer, na wie die toernoooi genoem is en wat ’n oudleerling van dié skool is, ’n geluk­wensing gestuur het uit Amerika, waar sy deesdae woon. Sy sê vir haar is dit ’n groot eer om steeds haar naam aan dié toernooi te koppel.

Amanda is tot op hede Suid-Afrika se suksesvolste vroue­tennisspeler.

As deel van die viering van die toernooi se 25ste jaar is al die kapteins van Oranje se eerste span sedert 1998 na die openingsgeselligheid genooi. Sewe van hulle het dit bygewoon.

Mia Schimper, Nina Schimper, Donna le Roux en Ansoné Theron het hul derde Amanda Coetzer-titel verower saam met hul afrigter, MC Olivier.

Donna was die toernooi se beste nr. 1-speler, Cara le Grange die beste nr.2-speler, Mia die beste nr. 5-speler en Ameli Bezuidenhout die beste nr. 7-speler.

Inge Ferreira en Yana Olivier is as die beste o.15-dubbelspaar aangewys. Die o.15’s was die naaswenners.

Uitslae

  • Oranje klop Waterkloof 7 – 0;
  • Oranje klop Rhenish Girls’ High 4 – 3;
  • Oranje klop Menlopark 7 – 0;
  • Oranje klop Hoër Meisieskool Bloemhof (halfeindstryd) 4 – 1; en
  • Oranje klop Paarl Girls’ High (eindstryd) 4 – 0.

Nina Schimper (foto) en Donna le Roux was die beste dubbelspaar. Foto’s: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.