Spelers toon staal teen oorsese klubs

Die Bloemfonteinse amateur-krieketspan die CPI Challengers het ’n derde plek behaal teen 36 spanne in die Last Man Standing-wêreldkampioenskaps­byeenkoms (LMS) wat van 11 tot 18 Desember in Kaapstad aangebied is. Spanne uit nege lande van oor die wêr


Die Bloemfonteinse amateur-krieketspan die CPI Challengers het ’n derde plek behaal teen 36 spanne in die Last Man Standing-wêreldkampioenskaps­byeenkoms (LMS) wat van 11 tot 18 Desember in Kaapstad aangebied is. Spanne uit nege lande van oor die wêreld heen het aan dié toernooi deelgeneem.

Die Challengers het ses wedstryde gespeel, waarvan die span vyf gewen het. In die halfeindstryd het die Challengers teen die Kaapse span Masagamy verloor.

Masagamy het deurgedring en eindelik die toernooi gewen, met die Dhaka Warriors van Bangladesj in die tweede plek.

Die Challengers se oorwinnings was oor twee spanne van Engeland, ’n span van Bangladesj en twee spanne van Kaapstad. Die Challengers was bo-aan die ranglys vir die groep waarin hul meegeding het, met 28 punte.

Talle Suid-Afrikaanse spanne van ander provinsies, asook internasionale spanne, het aan die toernooi deelgeneem. Die ander Bloemfonteinse span wat deelgeneem het, die CPI Masters, was 30ste in die toernooi.

Die Challengers het behoorlik hul man gestaan in die toernooi, en boonop het talle spanlede het individueel uitgeblink.

Naude van Biljon is aangewys as die agtste beste veelsydige speler van die toernooi, terwyl Lucas Boucher 14de geplaas is in dié afdeling. Corne Booyzen het die lys gehaal as agtste beste bouler en Kyle Pretorius as agtste beste paaltjiewagter.

Pretorius, Martin Nel en Tommy Kock het in twee wedstryde eiehandig seker gemaak dat hul span wen.

Kock het in ’n wedstryd teen die Black Eagles van Engeland (derde gekeur) 33 lopies van 32 balle gemoker.

Pieter Pitout het in ’n beurt teen B&B van Kaapstad 34 lopies van slegs 9 balle geslaan – waarvan vyf sesse ná mekaar – om ’n oorwinning teen dié span te verseker.

In nog ’n onvergeetlike wedstryd teen Tech Republic van Banladesj het Pretorius drie uitmuntende vangskote as paaltjie­wagter geneem, waarvoor hy ver moes hardloop. Nel het in daardie wedstryd twee paaltjies geneem, waarin Pretorius die bal gevang het.

HJ de Lange, Pretorius, Boucher en Van Biljon het almal beurte van 50 (nie uit nie) gehaal.

Die Challengers is nou derde op die LMS-lys in Suid-Afrika en 16de in die wêreld.

Die span het met die goeie uitslag reeds gekwalifiseer vir 2023 se Wêreldkampioenskap. Die seisoen vir die plaaslike liga begin Sondag (15/01).

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.