Twee van die Hoër Meisieskool Oranje se bobaastennisspelers, Donna le Roux en Liné Greyling, het die Suid-Afrikaanse skolespan gehaal.
Dié span, wat uit o.15-, o.17- en o.19-spelers bestaan, sal in die wintervakansie na Europa toer.
Nadat hulle in Tennis Suid-Afrika se skoleweek uitgeblink het, is Liné vir die o.19-span en Donna vir die o.15-span gekies.
Dié byeenkoms is in Pretoria aangebied.
Liné se o.19-span was die naaswenner nadat hulle op Dinsdag 22 Maart naelskraap teen Sentraal-Gauteng in die eindstryd vasgeval het. Donna se o.15-span was vyfde.
- Liné het in Desember vir Suid-Afrika se o.20-span gespeel. Donna sou Suid-Afrika verlede jaar in die vrouetennisvereniging (WTA) se Future Stars-byeenkoms in China verteenwoordig, maar dit is na vanjaar uitgestel.