Min mense was so bly soos Liné Greyling toe die harde reënbui Maandag (04/04) ophou.
Dit het haar die geleentheid gegee om Tennis Suid-Afrika se nasionale Growthpoint-toernooi vir junior spelers te wen.
Dit was dié matriekleerling aan die Hoër Meisieskool Oranje (OMS) se eerste oorwinning in ’n nasionale toernooi. Sy was tweede gekeur in die o.18-ouderdomsgroep.
“Liné het so lekker in die halfeindstryd gespeel. Sy kon skaars slaap, so opgewonde was sy om in die eindstryd te speel,” sê ma Linda.
“Sy was so teleurgesteld toe dit Maandagoggend reën.”
Die toernooi is van Donderdag (31/04) tot Maandag in Bloemfontein beslis.
Volgens MC Olivier, Liné se afrigter, het die reën so erg met die toernooi ingemeng dat die dubbelspelwedstryde afgelas is.
“Liné het goed gespeel in die halfeindstryd. Dit is die beste wat ek haar in die afgelope drie jaar sien speel het.”
Sy het Litha Ndungane van Gauteng-Sentraal met 4 – 6, 6 – 2, 6 – 0 geklop om na die eindstryd deur te dring.
In dié stryd het Liné teen die sesde gekeurde Nadia Gouws van Pretoria te staan gekom en haar met 7 – 5, 6 – 2 geklop.
Liné is onlangs in die nasionale skolespan ingesluit.
- Donna le Roux (o.16), nog ’n OMS-leerling, het goed gevaar. Sy het na die eindstryd deurgedring, waar sy teen die eerste gekeurde Mari-Louise van Zyl van Noordwes vasgeval het.